The Queen

Response Ability

10 jaar terug was ek te geïrriteerd met die media en massa-histerie van die publiek om agter te kom ek is self teleurgesteld oor Prinses Diana se dood. Dit was dus nogal ‘n aardige gevoel om dit met die kyk van hierdie fliek te ontdek.

The Queen gaan grootliks oor die reaksie van die koningshuis, en meer spesifiek die koningin, op die dood van Diana.

2 vrae het my bly pla, en dit het my storie op hierdie post geword.

Vraag 1: Vir wat was die mense so behep met die Queen se reaksie op Diana se dood? Ons sien die blaam vir die dood word so half op die paparazzi se skouers geplaas, maar soms word deur die publiek geskimp dat die Royal Family aandadig is. Die fliek kyk bietjie na die koningin se eie struggle met die krisis: dit is ‘n familie-saak sowel as ‘n amptelike koningshuis-van-Engeland-saak. Sy is monarg EN moeder.

Dit was nog altyd vir my lagwekkend dat almal die blaam so op die paparazzi geplaas het – so asof daar NIEMAND was wat die tydskrifte met die steelfoto’s gekoop het nie. Selfs met die rouery voor die begrafnis wou almal SIEN hoe die queen dit saamdoen. Dit lyk asof die publiek van iemand rekenskap vereis vir Diana se dood. En ons is so bly as ons iemand kan kry wat daardie blaam moet dra. Die feit dat ons Huisgenoot gekoop het as sy op die voorblad was, is nie ter sake nie. As die queen hulde betoon, is Sannie Publiek tevrede.

Vraag 2: Hoekom is miljoene mense so getraumatiseer deur Diana se dood? Een van die omstanders in die fliek sê: “I’ve never experienced something like this before!” Oral strompel mense rond wat sigbaar probeer cope met verlies.

Verlies aan wat? ‘n Sprokie? ‘n Ikoon? “People’s Princess” sê tog sy was almal s’n. Maar hoekom wou jy ene hê? Was Diana dalk ‘n projeksie of ‘n toonbeeld van wat mense graag wou wees of regkry?

Ek dink vraag 1 en 2 gaan oor verantwoordelikheid (response ability) vir goed en sleg in ons lewens. Vir sleg soek ons ‘n scapegoat: die koningin, paparazzi, Hoesein, Bush, die kerk, regering, munisipaliteit. Soms geregverdig, soms is dit net ‘n blame game, dan voel ek beter.

Vir die goeie soek ons ‘n ikoon of simbool wat ons droom namens ons kan uitleef: Diana, wat bo die sisteem kon uitstyg, Mandela, Cher, Jonty Rhodes, Richard Branson. Soms motiveer dit, maar soms moet hulle maar namens ons die goeie regkry.

Maar dis veel gevra. “Uneasy lies the head that wears ‘n crown.” Die aanhaling waarmee die fliek begin.

Vir behoefte 1 en 2 het ons offers nodig. Inderdaad sien ons saam met die queen die scapegoat in die slagkamer, sonder sy kop. Die queen HET probeer om die pragdier te red.

Ek kan seker maar moan oor al die sleg om my en ander blameer, of my drome in ander se lewens sien, maar dit ontneem my my eie verantwoordelikheid. Damn.

Snaaks genoeg, met die intog in Jerusalem (Joh. 12:12-19) wapper die palmtakke en almal sien hul droom. Soos met Diana, brom die leiers daaroor. ‘n Paar dae later hang die droom met ‘n kroon aan die kruis met ‘n bordjie bo sy kop: Koning van die Jode. Beide behoeftes, een persoon.

About fredddels

Ek dink alles kan geld as teks. Dis jou bril en jou eetlus wat bepaal wat jy raaklees.

Posted on Januarie 13, 2007, in Uncategorized. Bookmark the permalink. 5 Kommentaar.

  1. Wat is die storie met die bok – die bok wat gejaag en uiteindelik geslag word?

  2. Hmm…ek wil graag met jou verskil oor die antwoord op vraag #2. Myns insiens gaan dit om iets veel eenvoudiger as sondeboek / ikoon soek – mense het “geskok” gevoel omdat hulle vir jare lank belieg is deur poniekoerante en ander dergelike manifestasies van die media. Die leun? “Jy ken haar, sy’s deel van jou lewe, jy het aanspraak op haar anima.” In ‘n neutedop: “Jy ken haar.”

    Niks kan verder van die waarheid af wees nie.

  3. Do Kwang,
    die bokgedeelte het vir my erg geforseerd gevoel. Vir ‘n vriendin was dit iets rondom Diana wat tot die dood toe bewonder is, of dalk die koningin self. Of beide. Was vir my bietjie snaaks om die kop daar te sien le^, kompleet met horingkroon.

    Johan,
    Ek voel gemaklik met verskeie interpretasies, en veral met joune hier. Mens sou dus verder kon vra: Op grond waarvan weet jy jy ken iemand? Wanneer is dit realiteit dat iemand deel van jou lewe is?

    Weet iemand dalk of die fliek in opdrag van die Britse koningshuis gemaak is?

  4. Dalk is daar ‘n bok omdat Princess Di met sulke Bambi-ogies vir die kamera kyk wanneer sy se^: “There were three of us in that marriage.”

  5. Inderdaad is Prince Charles ook nogal ‘n bok vir sports.

Lewer kommentaar op Freddy Kanselleer antwoord