Stille elegansie

Die kinders jil en juig in die tent.  Ek ruik die gras wat hulle sit en uitpluk uit pure opgewondenheid.  Die poppekas en die kulkunstenaar het behoorlik die ding gedoen.

 

Elkeen kry ‘n stukkie bont tuisgemaakte klei om ‘n hartjie mee te maak.  Dis nog louwarm, en ek voel die souterigheid daarvan in my palms soos wat my hande weer droog word.  Dan kom hulle sommer so klomp op ‘n slag om die harte teen die rowwe hout van die kruis vas te druk.  Party so verspot, dat ek my lag nie kan hou nie.  Die een outjie kom paradeer met sy groen kleihart oor sy neus gedrapeer, en ‘n ander een gil omdat sy eerder ‘n rooi hart wou gemaak het. 

 

Maria sit tussen haar groepie kinders wat sy uit die strate gaan haal het vir die byeenkoms.  Hulle ruik en proe eers versigtig aan die klei voordat hulle na die ander loer om te sien wat mens nou eintlik moet maak.  Die tweede en derde golf opgewonde kinders kom daar van haar kant af.

 

Die wind pluk aan die groot markiestent, en ek voel oorweldig deur die lawaai van giggelende kiddies, die wind en die reuk van ou seil.  

 

Dan kom sy, asof soos ‘n engel, uit die kinderskare te voorskyn.  Ek het haar nog nie voorheen opgemerk nie.  Ek skat haar so ses of sewe jaar oud.  Armpies en beentjies uitermate dun weens ondervoeding –  die knobbeltjies op haar skouers en elmboë lyk amper seer.

 

Haar oë soek myne versigtig op.  Ek glimlag vir haar en knik.  Met stille elegansie loop sy vorentoe, voetjie vir voetjie.  Sy trap versigtig met haar te klein plastieksandale, amper soos ‘n touloper sou loop.  Dan kom staan sy voor my, maar sorg dat die afstand tussen ons net reg is: Na genoeg dat ek moet weet sy voel ok, ver genoeg dat ek moet weet om nie aan haar te raak nie.

Vir ‘n rukkie is dit net ek en sy.  Ek sien kinders huppel en spring en lag, tentpale wat wieg en ouers wat gesels, maar ek hoor niks.  Tussen my en die engel is ‘n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie.

 

Voor haar maag hou sy haar hande bak oor mekaar, amper asof daar ‘n skoenlapper in gekoester word wat wil wegvlieg.  Sy kyk na die harte op die kruis, en ek sien sy vind ‘n oorblywende oop kol op die lelike hout.  Dan lig sy die skoenlapperhande boontoe, gereed om die inhoud te laat vlieg.  Sy steek dit uit na my, en ek neem dit.

 

Dit is ‘n klein dik geel-klei hart.  Dit lyk of sy amper te bang was om met die klei te werk, en of die hartvorm amper per ongeluk so gebeur het.  Ek druk my vinger op die oop plekkie op die hout en lig my wenkbroue.  Sy glimlag en knik stadig.  Ek druk die louwarm klei teen die hout vas, en voel amper sleg oor ek dit harder moet druk om te bly sit.  Ek vryf my vingermerke in die middel van die hart weer toe wanneer ek klaar is.  

 

Vir ‘n oomblikkie staan die engel doodstil.  Haar mond gaan effens oop van die glimlag.  Ek sien hoe haar oë die kruis op en af bekyk, en telkens weer kom stilstaan op haar geelhart.  Dan kyk sy my vol in die oë, en knik haar kop.  Sy is tevrede.

 

Sy draai om, en loop weer versigtig terug, net soos wat sy gekom het.  Tussen die ander straatkinders verdwyn sy.  Stadig dring die lawaai in die tent weer tot my deur.  Iemand stamp aan my.  Voor ek omdraai, loer ek self net eers weer na die kruis.

 

En daar, tussen die baie harte in geel, groen, blou en rooi, sit n klein dik geelhartjie sommer so onderlangs teen die hout.  My enigste bewys dat hier vandag ‘n engel was.

About fredddels

Ek dink alles kan geld as teks. Dis jou bril en jou eetlus wat bepaal wat jy raaklees.

Posted on Maart 3, 2009, in Uncategorized. Bookmark the permalink. 2 Kommentaar.

  1. Wow…leef ons nie maar vir sulke oomblikke nie?

  2. Jip… sulke profound oomblikke maak die lewe partykeer net effe ligter, ne?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: