Prince Caspian (Chronicles of Narnia)

Ek neem toe Saterdag 15 tieners saam met my om Prince Caspian te gaan kyk. Nadat ons die kaartjies gekoop het, staan ons en praat lekker nonsens. Skielik kry ek net so ‘n gevoel oor my kaartjie – iets is nie reg nie. Ek haal dit uit my broeksak en ontdek tot groot vermaak van die tieners: die dominee het ‘n kaartjie vir Sex and the City! Maar hier by ons gee niemand regtig om by watter teater gaan jy in nie, solank jy ‘n kaartjie het. (Ek sien wel Sarah Jessica Parker lyk soos Joseph and his Amazing Technicolour Dreamcoat op die plakkaat.)

Met The Lion, the Witch and the Wardrobe het ek my verkyk aan Aslan, die leeu en Christusfiguur van Lewis se verhale.

In Prince Caspian wag ons vir sy verskyning. Dit het vir eeue nie gebeur nie. Honderde is al dood. Koninkryke het vergaan. Onreg seëvier. Maar Aslan kom net nie. Mens dink amper aan Samuel Beckett se play: “Waiting for Godot.” Intussen is daar diegene wat smag na reg en geregtigheid, wat bereid is om hulle lewens op te offer vir vryheid en vrede. En hulle raak moedeloos.

Wanneer hy uiteindelik sy verskyning maak, het ek al lus en skree. Wat is die punt van ‘n sterk leeu as hy net so een keer in ‘n paar eeue lus is om oog te wys?

Maar deur Lucy, die jongste, se karakter ontdek jy hy was heeltyd daar. “The others didn’t believe me,” sê sy. “That didn’t have to stop you from coming to me,” antwoord Aslan. Dis nie net Lucy nie, maar ook die brawe muise wat jou herinner dat die magsvertoon van die grotes om ons nie altyd kan staande bly teen die geloof en vasberadenheid van die kleineres nie.

Lucy het Aslan bly sien. Sy het bly glo.

Drie weke terug staan ek by die oop graf van ‘n vriendin. Op pad na haar graf, kry ons blomme om daar neer te sit. Haar jongste, 4 jaar oud, wil weet of Mamma die blomme gaan sien? “Ja, sy sal,” kom die antwoord. Ons arriveer by die graf. Jongste hang aan sy pappa se hand. Pappa se nek is nog in ‘n stut van die ongeluk. Jongste loer af in die graf na die houtkis. “Kyk, daar is Mamma se kis, met die mooi blomme op wat ons vir haar neergesit het.” Jongste kyk in die donker gat af na die wit blomme. Meteens kyk hy regop boontoe na die blou lug. Ek sien hoe hy sy oë oopdwing om in die skerp sonlig in te kyk.

“Kan Mamma die blomme sien van die hemel af?”

“Ja, sy kan,” antwoord die pappa.

“Hoekom kan ons dan nie vir Mamma sien nie?”

Roerloos staan ek en wag saam op Pappa se antwoord.

“Want ons kan nog nie so ver sien nie,” antwoord Pappa. Jongste is tevrede.

Ek lees van mense – pappas, mammas en kinders wat na Suid-Afrika gevlug het om in ‘n land te kan wees waar hulle ‘n blyplek kan hê en kos om te eet. En veiligheid. En dat van hulle tydens ‘n veldbrand van haat en vrees doodgemaak en verwilder is.

Ek ontmoet mense wat verskriklike verhale van mishandeling vertel. Uiterste seer en voortgaande pogings om net te oorleef.

So ek sukkel soms om die Aslan in my lewe te sien. Hoe lank nog? Gaan ek soos Lucy kan voortgaan met die “goeie stryd”, omdat ek t.s.v. alles steeds sy teenwoordigheid kan sien?

Ek stap uit die fliek met grootse verwondering vir C.S. Lewis – selfs al is die spirituele aspekte in die fliek bietjie afgewater, loop dit nog sterk.

Maar op pad huis toe, ry ek verby my vriend se huis, waar daar nou nie meer ‘n moeder is nie. En ek wonder heimlik: waar is die Leeu van Juda?

Psalm 130.

About fredddels

Ek dink alles kan geld as teks. Dis jou bril en jou eetlus wat bepaal wat jy raaklees.

Posted on Junie 9, 2008, in Uncategorized. Bookmark the permalink. 13 Kommentaar.

  1. Ek is diep geroer oor jou vertelling van die gebeurtenis by X se graf. is ons kinders nie ook ongelooflik prakties nie? . . . . en hy glo onvoorwaardelik vir Pappa dat Mamma die blomme kan sien! Ag!

  2. Haai!

    Iemand post comments in my naam? Is dit Vasti se opvolger?

  3. sjoe. briljant, soos altyd.

    ek was nogal aangedaan toe ek die boek gelees het. dit kom nie so sterk deur in die fliek nie, maar in die boek sien lucy aanmekaar vir aslan.
    lucy is ‘n profeet. maar sy is ook ‘n klein dogtertjie. en almal weet klein dogtertjies is nie profete nie en profete is nie klein dogtertjies nie. sy sien vir aslan. sy hou aan glo wanneer almal twyfel. sy herinner almal dat hulle op aslan moet vertrou, nie hul eie planne nie. maar niemand luister nie, niemand glo haar nie – sy’s ‘n klein dogtertjie.
    en aan die einde van die laaste boek het sy en aslan die mooiste gesprek van die reeks – ek wonder of hulle dit in die laaste fliek sal sit?

    ek het hierdie fliek baie geniet. en jou preek daaroor is aangrypend.

  4. ((((((((((((((((((((hugs)))))))))))))))))))))

  5. Baie dankie, Maeree! Ek is bly oor wat jy skryf van Lucy.

    En Platty, dankie vir my hug! Ons gesels te min, dink ek.

  6. Nice, ek sal beslis die fliek gaan kyk, die eerste een het ek vreeslike baie geniet. Ek het my ook verkyk aan die forste leeu – Aslan.

    Ek praat maar net vir myself hier: mens moet hou Aslan maar soek.

  7. Ek het gemengde gevoelens gehad oor die movie – ek het juis die boek weer onlangs gelees net om op datum te kom. Die invalshoek was funny, maar met ‘n boek waarvan 4 hoofstukke ‘n vertelling is van wat reeds gebeur het, is dit seker moeilik.
    Kon ook nie lekker verstaan hoekom Edmund en Peter aan die begin van die movie in ‘n fight was nie? En was dit nie Aslan wat vir Reepicheep sy lewe teruggegee het in die boek nie?
    Ek het sekere van die godsdienstige elemente van die boek gemis in die fliek, maar dit nogtans geniet. Kan nie wag vir die volgende een nie, maar sal hierdie een nog ‘n slag moet devour.
    PS> Ek doen my finalejaar teologie skripsie oor evangelisering van tieners deur flieks – enige idees/boeke/websites om te besoek?

  8. The Incredible Hulk
    The Strangers
    Semi Pro
    Kung Fu Panda
    The Happening

    kom en gaan, maar waar is Kinekansel??????

  9. Hierdie naweek kom Wall-E, Hancock, Mamma Mia!

  10. the happening!
    ek stem heel eerste vir the happening.

Lewer kommentaar op Pienk Zuit Kanselleer antwoord