toiletpapier

Nes ek by die tuinhekkie uitgaan, gewaar ek die halfnaak slak in sy skuim rondwriemel. Hy is toegepak onder die miere. Langs hom lê die helfte van sy dop, waarskynlik per ongeluk afgeruk deur die bedelaar met die krom skouers wat netnou hier was. Ek haal my donkerbril af en bestudeer die miere se spanpoging. Een het die slak aan sy oog beetgekry.

“Wat is dit, Pappa?” vra die 4-jarige Spiderman van ons huis.

“‘n Klomp miere wil hierdie slak eet,” antwoord ek.

Stilte.

Dan raak Spiderman angstig agter die traliehek.

“Ek wil SIEN!”

Hy hol in die huis in, gryp die sleutels en kry die veiligheidshek oopgesluit. Met een sprong is hy langs my.

“Ja,” is sy bevinding. “Daardie miere is honger. Hulle gaan nou lekker eet.”

Dis nie lank nie, of die 7-jarige Princess Belle sluit haar by ons ekspidisie aan.

“Haaaaa! ‘n Slakkie! Shame, hulle gaan hom doodmaak.”

“Ja, hulle gaan hom EET!” spreek Spiderman die doodsvonnis uit.

“Nee! Kom ons help hom!” Princess Belle gaan sit plat op die gras langs die skuimbol. Sy blaas oor die miere.

“Hy gaan in elk geval doodgaan. Hy kan nie so sonder sy doppie lewe nie, die miere gaan hom elke keer weer kry. Miskien moet ons hom liewer doodmaak, dan is dit vinnig verby,” probeer ek.

“Nee!” gil Belle weerstandig. “Ons gaan nie dit doen nie.”

“Ja, kom ons maak hom DOOD!” Spiderman dink eutanasia is ‘n uitstekende plan. Hy hoop hy kry die eer om dit uit te voer.

Ek tel ‘n klip op om die slak se lyding te verkort. Met ‘n refleksbeweging druk Princess Belle haar hand tussen die klip en die slak in. Geen ingrype word vandag hier toegelaat nie.

“Ons los hom so, dat hy liewer self doodgaan.”

Die etiese kwessies wat ons so op ons sypaadjies moet hanteer! Ek laat dit aan die twee oor om te besin wat is die regte ding om te doen. Belle reken dat dit dan maar gedoen moet word, maar hy sal moet begrawe word.

Spiderman kry skoon bewerasie oor die idee. Dis nog die beste een van die dag. Maar HY sal dit doen, kondig hy aan.

Die miere wat so trek aan die ding se lang oog werk op my senuwees. Ek gryp die klip, en met ‘n vinnige beweging fast-forward ek die sessie, voordat enige herbesinning kan plaasvind. Geskok vou Princess Belle haar arms om haar bene. Sonder ‘n bypassende geluid stroom die trane. Spiderman sluk. Princess Belle hardloop in, en kom met ‘n stukkie toiletpapier uitgehol. Met die grootste versigtigheid, asof sy bang is sy maak die ding seer, vou sy die dooie slakbol in die papier toe. Haar gesig lyk soos ‘n ma s’n terwyl sy haar kleintjie se snotneus afvee. Sy loop en gaan begrawe hom onder ‘n bos.

Spiderman tel een van die groot miere op. Dis darem ‘n wonderlike dag hierdie! Hy bestudeer die ding, dink ‘n bietjie, en eet dit met groot verwagting. Sy gesig lyk soos dié van ‘n fynproewer by Slanghoek Wynkelder wat die nuutste Cabernet Sauvignon uitprobeer. Dit was blykbaar wel nie ‘n goeie oesjaar nie.

 

Met Princess Belle wat stilweg in die huis verdwyn, laat gaan ek die wrokke en woedes teenoor ‘n klomp mense vir wie ek bitter kwaad is. In my drafklere, plat op die grond op die nat gras, het ‘n groot klomp goed in my lewe in slegs een vierkante meter vandag irrelevant geword.

 

 

About fredddels

Ek dink alles kan geld as teks. Dis jou bril en jou eetlus wat bepaal wat jy raaklees.

Posted on November 17, 2007, in Uncategorized. Bookmark the permalink. 14 Kommentaar.

  1. *asemrowend*

  2. Freddy, ek weet die blog is oorspronklik bedoel om oor flieks te gaan, en hou aan daaroor skryf. Maar, WOW!, ek dink jy kan gerus ook meer oor ander stuff skryf.

  3. Prinses Belle en ek sal goed oor die weg kom.

  4. Batcat en GM
    Baie dankie! Ek het intussen ontdek dat ek nie altyd dadelik lus is om oor ‘n fliek iets te se nie. Verder fliek ek ongelukkig ook nie elke dag nie. So dankie vir die uitnooi, ek dink ek sal!

    Bertus!, ek glo nogal julle twee sal goed oor die weg kom, ja. En by the way, ek dink nie ek gaan meer jou uitroepteken agteraan jou naam skryf nie, dit lyk altyd asof ek leesteken honger is wanneer ek met jou gesels. Ek meen, se nou maar net ek wil op jou gil, moet ek dan sowaar twee uitroeptekens uittik?

  5. Het altyd bye en ladybirds uit die swembad gered.

    Mooi geskryf.

  6. Bogger die flieks… you’re GOOD!!!!!!

    Is nou seriously ‘n nice entry die gewees! Doen so voort!!!!!!! Rerig rerig!!

  7. Prinses Belle en Spiderman is beide baie erudiet vir hulle ouderdom. Seker maar oorerflik.

  8. *oorbluf*
    Nout ek nie ‘n clue wat de hel ek oor moet skryf nie!

    Ek het One Night with the King gekyk. Maar dit was stupid.

  9. Ag neeeeeeee. Moenie dit se^ nie. Ek het die boek gelees (Tommy Tenney) en was van plan om die fliek die week te gaan kyk, maar wil nie my tyd mors nie. Hoekom se^ jy dit was stupid?

  10. Stunning stukkie hierdie, ja!

    Ek het op my dag nog bye uit die swembad gered. Ek weet nou ek is hoogs allergies vir die goed. Ek love ook katte, maar ek is hoogs allergies vir hulle ook. Hehe. Snaakse grappie daai, snaaks.

    Ek leer wel nou die voordele van euthanasia. Al gekyk hoe ‘n kat met ‘n muis speel? OK, ons het al muise gered van die kat af, en weer reg gedokter en vrygelaat. Maar dan sit ons gif uit op die plafon vir die muise wat my wakker hou en my werk onderbreek.

    Dalk moet ek vir die internet ook gif uit sit. Dit hou my ook uit die werk uit.

  11. Ek het die vakansie FA Venter se Man van Cirene, en toe Kambroo Kind gelees. Sien ek in my moeder se boekrak sy boek Werfjoernaal, en leen dit.

    Nou nie op dieselfde trant as die vorige twee boeke nie, maar ‘n lees ervaring soos wat ek lanklaas gehad het. Sy beskrywings van die diere (onder andere dan ook miere) en hoe hy en sy gesin hulle waarneem en ervaar, gaan gewis die leser ‘n ander uitkyk op die diereryk gee.

    Jou skrywe het my daaraan herinner.

  1. Pingback: Hoekom ek nie gehou het van One Night With the King nie « Kinekansel

  2. Pingback: My favourites « Kinekansel

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: