Archive Page 2

09
Jun
08

Prince Caspian (Chronicles of Narnia)

Ek neem toe Saterdag 15 tieners saam met my om Prince Caspian te gaan kyk. Nadat ons die kaartjies gekoop het, staan ons en praat lekker nonsens. Skielik kry ek net so ‘n gevoel oor my kaartjie – iets is nie reg nie. Ek haal dit uit my broeksak en ontdek tot groot vermaak van die tieners: die dominee het ‘n kaartjie vir Sex and the City! Maar hier by ons gee niemand regtig om by watter teater gaan jy in nie, solank jy ‘n kaartjie het. (Ek sien wel Sarah Jessica Parker lyk soos Joseph and his Amazing Technicolour Dreamcoat op die plakkaat.)

Met The Lion, the Witch and the Wardrobe het ek my verkyk aan Aslan, die leeu en Christusfiguur van Lewis se verhale.

In Prince Caspian wag ons vir sy verskyning. Dit het vir eeue nie gebeur nie. Honderde is al dood. Koninkryke het vergaan. Onreg seëvier. Maar Aslan kom net nie. Mens dink amper aan Samuel Beckett se play: “Waiting for Godot.” Intussen is daar diegene wat smag na reg en geregtigheid, wat bereid is om hulle lewens op te offer vir vryheid en vrede. En hulle raak moedeloos.

Wanneer hy uiteindelik sy verskyning maak, het ek al lus en skree. Wat is die punt van ‘n sterk leeu as hy net so een keer in ‘n paar eeue lus is om oog te wys?

Maar deur Lucy, die jongste, se karakter ontdek jy hy was heeltyd daar. “The others didn’t believe me,” sê sy. “That didn’t have to stop you from coming to me,” antwoord Aslan. Dis nie net Lucy nie, maar ook die brawe muise wat jou herinner dat die magsvertoon van die grotes om ons nie altyd kan staande bly teen die geloof en vasberadenheid van die kleineres nie.

Lucy het Aslan bly sien. Sy het bly glo.

Drie weke terug staan ek by die oop graf van ‘n vriendin. Op pad na haar graf, kry ons blomme om daar neer te sit. Haar jongste, 4 jaar oud, wil weet of Mamma die blomme gaan sien? “Ja, sy sal,” kom die antwoord. Ons arriveer by die graf. Jongste hang aan sy pappa se hand. Pappa se nek is nog in ‘n stut van die ongeluk. Jongste loer af in die graf na die houtkis. “Kyk, daar is Mamma se kis, met die mooi blomme op wat ons vir haar neergesit het.” Jongste kyk in die donker gat af na die wit blomme. Meteens kyk hy regop boontoe na die blou lug. Ek sien hoe hy sy oë oopdwing om in die skerp sonlig in te kyk.

“Kan Mamma die blomme sien van die hemel af?”

“Ja, sy kan,” antwoord die pappa.

“Hoekom kan ons dan nie vir Mamma sien nie?”

Roerloos staan ek en wag saam op Pappa se antwoord.

“Want ons kan nog nie so ver sien nie,” antwoord Pappa. Jongste is tevrede.

Ek lees van mense – pappas, mammas en kinders wat na Suid-Afrika gevlug het om in ‘n land te kan wees waar hulle ‘n blyplek kan hê en kos om te eet. En veiligheid. En dat van hulle tydens ‘n veldbrand van haat en vrees doodgemaak en verwilder is.

Ek ontmoet mense wat verskriklike verhale van mishandeling vertel. Uiterste seer en voortgaande pogings om net te oorleef.

So ek sukkel soms om die Aslan in my lewe te sien. Hoe lank nog? Gaan ek soos Lucy kan voortgaan met die “goeie stryd”, omdat ek t.s.v. alles steeds sy teenwoordigheid kan sien?

Ek stap uit die fliek met grootse verwondering vir C.S. Lewis – selfs al is die spirituele aspekte in die fliek bietjie afgewater, loop dit nog sterk.

Maar op pad huis toe, ry ek verby my vriend se huis, waar daar nou nie meer ‘n moeder is nie. En ek wonder heimlik: waar is die Leeu van Juda?

Psalm 130.

28
May
08

Nog ‘n stukkie Three Colours Red

Na 1uur 3 minute in die fliek, vind die volgende gesprek plaas tussen regter en model:

Judge: I wonder what I’d do in their pIace….The same thing.
Valentine: You’d throw stones?
Judge: In their place? Of course.  And that goes for everyone I judged. Given their lives, I would steal, I’d kill, I’d lie.  Of course I would.  All that because I wasn’t…in their shoes, but mine.

Om begrip vir iemand te toon, beteken nie jy stem saam met hom / haar nie.  My vorige post verwys.

26
May
08

“Verontwaardiging”, nogal

Dana Snyman skryf, wat my betref, toe sinvol. Hy praat namens homself, sonder om snaakse goed te aanvaar oor die mense wat by die mighty men konferensie was.

Daarenteen is daar iemand wat, vreemd genoeg, “verontwaardig” is oor die konferensie. Kan ons regtig verwag om objektiewe waardes by die kerk te kry, wil ek weet? En is emosie regtig so negatief? Ek meen, mens moet tog darem iets van emosie verstaan om berymings te maak van so ‘n paar Psalms in die Liedboek van die Kerk? Of gooi ek die spies mis hierso? Kan mens net objektief sit en dink oor emosies? (En as dit gaan oor die feit dat die konferensie vir mans bedoel is, sal ek graag wil weet hoekom die skrywer nie ook wil spiesgooi na die Hadassa konferensies nie?)

As die konferensie een of ander oorlog voorgestaan het en/of afbrekend was, sou ek sodanige “verontwaardiging” kon verstaan, maar dit is vir my ‘n vreemde en onvanpaste emosionele reaksie. Net soos wat dit vir my snaaks is dat sommiges nou meen Dana Snyman “ken nie die Here nie”.

Aan die een kant braak sommige gal oor die mighty men. Hoekom, verstaan ek nie.

Aan die ander kant is dit vir party die enigste oplossing en is jy verdoem as jy nie ook so dink nie. Hoekom, verstaan ek nie.

Doen iets positief aan die situasie in ons land, en ek sal met graagte na jou opinie luister. Dit help nie ons blaai resepteboeke deur en kritiseer al wat gereg is, maar etenstyd is daar nie kos nie.

21
May
08

Iron Man

Jammer oor my virtuele afwesigheid die afgelope ruk. Hier’s ek weer (x2).

Ons storie begin met ‘n ikoon, die superster tipe (nie die Patricia Lewis soort nie, hierdie een se bates is in die vorm van geld. Maar mens staar tog later ongelowig na sy borskas OOK, want daar skyn ‘n blouerige liggie wat sy hart aan die gang hou. Tehehehe.)

Hy is ‘n ikoon omdat hy Amerika red met fantastiese wapentegnologie. Ons sien wel dat hy nie verantwoordelikheid neem vir die gevolge van sy wapens nie.

En op ‘n dag is hy aan die ontvangkant van sy self-ontwerpte skietgoed. Dit tref hom na aan die hart. En met sy “nuwe hart”, kyk hy skielik anders na die situasie. Hy wil sy besigheid draai – om eerder na vrede te streef.

Maar hy loop homself vas in die mens wie hy was. Hy het ‘n erfenis gelaat wat hom nie maklik toelaat om nou anders te kies nie. Ons sien dit wanneer sy verraaier ‘n groter Iron Man bou as hyself. In ‘n sekere sin baklei Stark met homself wanneer hy teen hierdie ou te staan kom. In elk geval, die Stark wat hy was.

Ons storie eindig met ‘n ikoon. Nie omdat hy wapens maak nie, maar omdat hy bereid is om te erken wie hy is: “I am Iron Man”. Met sy nuwe hart kies hy om eienaarskap te neem van sy besluite.

“I am…” het ons al iewers gehoor, dan nie?

12
Apr
08

Met singerige toon

Sommige mense kry dit reg om te klink asof hulle neurie terwyl hulle praat. Luister mooi, daar is nogal heelwat van hulle. Party neurie nie altyd nie, maar sal soms, sonder om jou vooraf te waarsku, begin sing terwyl hulle praat.

Die laaste keer waartydens ek my in so ‘n situasie bevind het, was in die hopitaal se waakeenheid.

Ek word om 04:13 die oggend geskakel op my selfoon. Die tannie is nou op haar einde. Ek trek my jean sommer bo-oor my Tasmanian Devil slaapbroekie aan, pluk ‘n trui oor my kop en slinger tussen slaap en wakker deur tot by die motor.

Die hospitaalpersoneel lyk soos ek voel. Ek kom by die tannie. Sy IS op haar einde, weggesak in ‘n diep koma. Maar nou is dit nie net haar dogter wat by is soos gisteroggend nie, daar is nou ‘n man by. Op hierdie oomblik probeer ek nie familie uitpluis nie, maar ek luister mooi na hom ook.

Hulle wag dat die dominee iets doen.

So ek lees ‘n stukkie uit die Bybel en bid saam met hulle. Uiteindelik kom die “Amen.” En ek bly dan doodstil vir ‘n rukkie. Ek kan niks verander nie, maar om nou oor die Stormers te praat, gaan ook nie werk nie. En om te sit en preek is stupid. So ek is heel gemaklik om net bietjie in stilte by hulle te sit. Dit is immers duidelik dat die tannie op haar laaste is, en ek gaan nie Halleluja-liedere sing terwyl ons afskeid neem nie.

Maar nie almal is ewe gemaklik met stiltes nie.

Die vreemde man lyk meteens verbouereerd. Ek sien hy wil iets doen. Ek kyk. Hy tree rukkerig vorentoe en vryf oor die tannie se gesig, min of meer soos ek laas met my Labrador gedoen het. Dan, sonder enige vooraf waarskuwing…

…vra hy vir die tannie in die koma, in ‘n perfekte neurende stem: “Voel jy beter? Hmmm? Voel jy nou beter?”

Ek het die wysie gaan transkribeer. Dit is in 4-tyd.

11
Apr
08

8

Danksy Platty en Maeree, hier volg 8:

8 Dinge waaroor ek passievol is

  • Musiek
  • Kinders
  • Humor
  • Dagdroom en fantasie
  • Kleur
  • My vrou
  • Seks
  • Kuns

8 Goed wat ek wil doen voor ek sterf

  • ‘n 4m x 2m skildery verf dat my hele lyf vuil is daarvan
  • Alaska besoek in die somer
  • ‘n Kampterrein beplan, bou en beplant – ‘n tipe healing centre vir groot en klein.
  • Mandela ontmoet (voor hy sterf…)
  • In ‘n lugballon sweef
  • Hierdie lysie klaarmaak

8 Goed wat ek gereeld sê

  • Ek wonder waar is dit?
  • Dit klink lekker!  Ja!
  • Uhm… koffie, asseblief.
  • Hoe laat wys dit?
  • Ek weet jy het MY opinie hieroor gevra, maar wat dink JY daarvan?
  • Jammer.
  • Actually
  • Lief vir jou.

8 Boeke wat ek onlangs gelees het

  • Ken Wilber: Integral Spirituality
  • Dirkie Smit: Neem, Lees!
  • Rinda Blom: A Handbook of Gestalt Play Therapy
  • 1 Petrus
  • ‘n ou Huisgenoot
  • Dibs in search of self
  • Albert Nolan: Jesus Today
  • Mattie Stepanek: Hope through Heartsongs

8 Liedjies wat ek oor en oor kan luister

  • Gabriel’s Oboe
  • Gabriella’s song
  • Theme from The Mission
  • Orinoco Flow
  • Simfonie nr 40 Mozart
  • Carmina Burana (Carl Orff), so hard as moontlik
  • Kyk hoe glinster die Maan (Laurika Rauch)
  • Hemel (Stef Bos)

8 Flieks wat ek al … baie gesien het

  • Blue
  • Red
  • Amelie
  • Lord of the Rings
  • Lion Witch & Wardrobe
  • Sound of Music
  • Gladiator
  • Lion King

Daar is niemand oor om te tag nie.

15
Mar
08

Die aarde het ophou draai

Want ek kan nie wag nie.

Al waaroor ek wonder: Hoekom klink James Horner se musiek hierin so baie soos James Newton Howard s’n in Lady in the Water?

11
Mar
08

my programmetjies

Ek is getag deur Roer om te wys watter programmetjies ek gebruik.  En Roer betreur sy rekenaarvaardighede, alhoewel hy dit reggekry het om steeds te wys hoe dit lyk.  Wel, ek vat nog shorter cut.  Jammer.  Ek gaan dit net lys.

Mozarella Vuurvos

Vinnige Uitkyk

Baie klein en sagte Woordjie

Adobe Leser 7.0

MP navigator (scanner printer multimasjientjie)

Internet Eksploreerder (Wat?? Ek gebruik dit dan lankal nie meer nie?)

Baie klein en sagte Kragpunt

Skype

Wie dink die Engelse name van hierdie programme uit?

04
Mar
08

Cloverfield

cloverfield

Dit is vir my so simpel om heel agter in die teater te sit en fliek kyk. Die hele idee is die groot skerm, dan nie? As jy so ver agter gaan sit, kan jy net sowel by die huis bietjie nader aan die TV gaan sit. Maar met hierdie movie was ek baie baie bly ek moes ordentlikheidshalwe amper heel agter sit. My kop het begin pyn van al die geskud en gebewe op die skerm.

Daar is ‘n paar frustrerende goed oor die fliek. Dit het my erg gepla, totdat ek begin wonder het oor 9/11 in dieselfde stad. Is hierdie nie ‘n hervertelling van New Yorkers se ervaring nie?

Kyk:

Jy sien filmskote van mense in ‘n mooi woelige stad wat rustig en vredig en opgewonde hulle lewe leef, drome droom en liefdeslewens probeer vestig;
Skielik is daar ‘n geweldige slag. Jy bevind jou tussen honderde mense wat gil en nie weet wat gaan aan nie;
Reuse geboue stort ineen;
Die Statue of Liberty verloor kop (jaja, ek weet die boeings het nie in die Green Lady vasgevlieg nie, maar Liberty is daarmee heen);
Net voor die eerste groot slag, skree iemand vir sy vriend: “It is time that you forget about the world and start caring about the people that you love.”;
Mense vlug in hulle hordes;
Die Twin Towers ego die hardste saam wanneer jy saamgaan om die meisie in haar woonstel te red: Twee amper identiese wolkekrabbers langs mekaar, waarvan die een inmekaargestort het terwyl die ander een nog staan;
Jy kom mettertyd agter hoe lyk hierdie monster wat verantwoordelik is vir die chaos. Verbasend genoeg, verwys niemand na die monster as Osama nie;
Jy weet nie waar kom die monster vandaan nie;
Hy het geen respek vir lewe nie;
Teen die einde van die fliek weet jy nie of hy dood is en of hy nog lewe nie;
Die groot terroris het ‘n klomp kleintjies ook losgelaat, en jy is redelik seker hier kom ‘n opvolg, al is dit net om die gediertes in die subways verder te vertroetel;
Die weermag sukkel gans te lank om te beredder, en kon nie betyds waarskuwings uitreik nie.

Verder gee die fliek ‘n gevoel van reality TV. Dit laat my dink aan die ervaring wat dit was om op jou TV-stel amateurvideos te sien van die World Trade Center se heengaan. Wat de hel gaan aan? Wat gaan volgende gebeur? En dit is hoe Cloverfield, wat my betref, ook eindig. Geen verklaring van waar die monster vandaan kom nie, geen bevredigende einde nie.

Die karakters word wel gekonfronteer daaroor om na te dink oor lewe: Wat is belangrik? Hoe het jy lief? Hoekom doen jy wat dit doen? Hoe neem jy besluite as jy nie al die feite kan kry nie?

Ek dink Hollywood het post-traumatiese stres. Met reg.

Jammer as dit bietjie depressing is, maar ek dink ‘n gepaste saamgesels teks is Klaagl. 1:1-2. Vir al die stede wat puin beleef het.

Luister Hot Gates van Laurika Rauch hierso. Kliek op MP3 en kies die lied.

11
Feb
08

Bladsy 123 van my naaste boek

Ek is deur Hugo getag om die volgende te doen:

  1. Tel die boek naaste aan jou op – dit moet meer as 123 bladsye he, vir obvious redes. Moenie kul nie.
  2. Blaai na bladsy 123.
  3. Tel die eerste vyf sinne af.
  4. Post die volgende drie sinne.
  5. Tag vyf ander boggers (spelfout intended deur Freddy).

Nouja, hier is dit, vasbyt:

“Environmentalism is a science-based movement. Sometimes it is bad science, but it none the less pretends to know what happens to nature, and to humans, revealing the truth hidden by vested interests of industrialism, capitalism, technocracy, and bureaucracy. While criticizing the domination of life by science, ecologists use science to oppose science on behalf of life.” (Manuel Castells: The Power of Identity)

En nou taguleer (bwahaha) ek vir Windpompe en Vygies; Kat of Vlermuis; Rosalind Franklin; Oopkop (dalk is die boeke al uitgepak) en Platterfuss. Kat, indien die nuutste uitgawe van Playboy of FHM meer as 123 bladsye het, beskou hierdie uitnodiging as gekanselleer. Maeree, jy is nie getag nie. Ons wil nie jou aandag van jou week se tema aflei nie.