Ek neem toe Saterdag 15 tieners saam met my om Prince Caspian te gaan kyk. Nadat ons die kaartjies gekoop het, staan ons en praat lekker nonsens. Skielik kry ek net so ‘n gevoel oor my kaartjie – iets is nie reg nie. Ek haal dit uit my broeksak en ontdek tot groot vermaak van die tieners: die dominee het ‘n kaartjie vir Sex and the City! Maar hier by ons gee niemand regtig om by watter teater gaan jy in nie, solank jy ‘n kaartjie het. (Ek sien wel Sarah Jessica Parker lyk soos Joseph and his Amazing Technicolour Dreamcoat op die plakkaat.)
Met The Lion, the Witch and the Wardrobe het ek my verkyk aan Aslan, die leeu en Christusfiguur van Lewis se verhale.
In Prince Caspian wag ons vir sy verskyning. Dit het vir eeue nie gebeur nie. Honderde is al dood. Koninkryke het vergaan. Onreg seëvier. Maar Aslan kom net nie. Mens dink amper aan Samuel Beckett se play: “Waiting for Godot.” Intussen is daar diegene wat smag na reg en geregtigheid, wat bereid is om hulle lewens op te offer vir vryheid en vrede. En hulle raak moedeloos.
Wanneer hy uiteindelik sy verskyning maak, het ek al lus en skree. Wat is die punt van ‘n sterk leeu as hy net so een keer in ‘n paar eeue lus is om oog te wys?
Maar deur Lucy, die jongste, se karakter ontdek jy hy was heeltyd daar. “The others didn’t believe me,” sê sy. “That didn’t have to stop you from coming to me,” antwoord Aslan. Dis nie net Lucy nie, maar ook die brawe muise wat jou herinner dat die magsvertoon van die grotes om ons nie altyd kan staande bly teen die geloof en vasberadenheid van die kleineres nie.
Lucy het Aslan bly sien. Sy het bly glo.
Drie weke terug staan ek by die oop graf van ‘n vriendin. Op pad na haar graf, kry ons blomme om daar neer te sit. Haar jongste, 4 jaar oud, wil weet of Mamma die blomme gaan sien? “Ja, sy sal,” kom die antwoord. Ons arriveer by die graf. Jongste hang aan sy pappa se hand. Pappa se nek is nog in ‘n stut van die ongeluk. Jongste loer af in die graf na die houtkis. “Kyk, daar is Mamma se kis, met die mooi blomme op wat ons vir haar neergesit het.” Jongste kyk in die donker gat af na die wit blomme. Meteens kyk hy regop boontoe na die blou lug. Ek sien hoe hy sy oë oopdwing om in die skerp sonlig in te kyk.
“Kan Mamma die blomme sien van die hemel af?”
“Ja, sy kan,” antwoord die pappa.
“Hoekom kan ons dan nie vir Mamma sien nie?”
Roerloos staan ek en wag saam op Pappa se antwoord.
“Want ons kan nog nie so ver sien nie,” antwoord Pappa. Jongste is tevrede.
Ek lees van mense – pappas, mammas en kinders wat na Suid-Afrika gevlug het om in ‘n land te kan wees waar hulle ‘n blyplek kan hê en kos om te eet. En veiligheid. En dat van hulle tydens ‘n veldbrand van haat en vrees doodgemaak en verwilder is.
Ek ontmoet mense wat verskriklike verhale van mishandeling vertel. Uiterste seer en voortgaande pogings om net te oorleef.
So ek sukkel soms om die Aslan in my lewe te sien. Hoe lank nog? Gaan ek soos Lucy kan voortgaan met die “goeie stryd”, omdat ek t.s.v. alles steeds sy teenwoordigheid kan sien?
Ek stap uit die fliek met grootse verwondering vir C.S. Lewis – selfs al is die spirituele aspekte in die fliek bietjie afgewater, loop dit nog sterk.
Maar op pad huis toe, ry ek verby my vriend se huis, waar daar nou nie meer ‘n moeder is nie. En ek wonder heimlik: waar is die Leeu van Juda?

