Ek loer gou in. Ja, inderdaad staan daar ‘n vreemde taal op hierdie prentjie. Maar ek het besluit dis sommer ‘n goeie Afrikaanse dubbelsinnigheid wat pas by onderstaande geselsie.
Daar is natuurlik min dinge so ysingwekkend soos om agter te kom jy is baie kleiner as wat jy gedink het.
Dit is presies wat met ons bekende Ice Age familietjie gebeur. Die vreemde kudde, gewoond aan ‘n wêreld van koue en ys waar mammoete die swaargewigte is, bevind hulle skielik in ‘n ander wêreld. ‘n Wreder, warmer en wilder ene…
Ons word vroeg reeds herinner dat hierdie kudde ‘n saamgestelde familie is: ‘n paar “weirdos” bymekaar, wat nie regtig veronderstel is om saam te kan funksioneer nie. En dit is hierdie einste vreemdheid wat maak dat sommige van die familielede die pad wil of moet vat.
Maar dit is juis die hunkering na familie en “belonging” van een van die lede wat veroorsaak dat die hele kudde eensklaps in ‘n ander wêreld beland, gevul met reuse reptiele en grillerige karnivoriese plante met te veel maagsappe.
Ek vermoed dit is soms waar ons onsself vandag bevind. (Nee, nie binne-in ‘n groot Venus “Flytrap” nie. Gee kans!) Ons families is uiteenlopend. Dit voel of ons nie regtig meer almal by mekaar pas nie. En dan kom ons nog boonop agter dat die wêreld waarin ons leef, baie vinnig verander. Ons sukkel om aan te pas in nuwe omstandighede, waar die reuse reptiele van resessie, te min tyd en te veel verantwoordelikhede dreig om ons familielede in te sluk.
Ons sien selfs hoe ‘n mammoet babatjie gebore word in hierdie eienaardige vyandiggesinde omgewing van Ice Age 3.
Hierdie geboorte is egter ‘n gebeurtenis wat die hele kudde tot stilstand bring. Die besef kom deur: “Ons het net mekaar”. Al is elkeen anders en al het elkeen sy / haar eie geite en grille – dit is wat ons het.
Die ondergrondse reptielwêreld het die potensiaal gehad om die familie uitmekaar te skeur en te verslind. Maar uiteindelik is dit binne-in hierdie gevaarlike omgewing waar die familielede mekaar weer ontdek en waardeer.
Ons sien die saamgeflansde familie uiteindelik weer tuiskom in die lig en die ys waar hulle hoort. Maar ons weet hulle is gelukkig nie meer dieselfde nie.
En ek dink sommer aan die brief van 1 Petrus, wat geskryf is aan die “vreemdelinge en bywoners in die wêreld”. In 2:10 word geskryf oor die familie (volk) wat nie voorheen ‘n familie was nie, maar wel een geword het. Eintlik maar ‘n vreemde uiteenlopende spulletjie. Ons word selfs in 5:2 ‘n kudde genoem!
Met hierdie teks in gedagte, sien ek uit na die geboortes wat op pad is, al is ons wêreld dikwels anders as wat ons wou hê. Ons het mekaar.






