Archive for the 'Uncategorized' Category

24
Jul
09

Ice Age 3

ice-age-3Ek loer gou in.  Ja, inderdaad staan daar ‘n vreemde taal op hierdie prentjie.  Maar ek het besluit dis sommer ‘n goeie Afrikaanse dubbelsinnigheid wat pas by onderstaande geselsie.

Daar is natuurlik min dinge so ysingwekkend soos om agter te kom jy is baie kleiner as wat jy gedink het.

Dit is presies wat met ons bekende Ice Age familietjie gebeur.  Die vreemde kudde, gewoond aan ‘n wêreld van koue en ys waar mammoete die swaargewigte is, bevind hulle skielik in ‘n ander wêreld.  ‘n Wreder, warmer en wilder ene…

Ons word vroeg reeds herinner dat hierdie kudde ‘n saamgestelde familie is: ‘n paar “weirdos” bymekaar, wat nie regtig veronderstel is om saam te kan funksioneer nie.  En dit is hierdie einste vreemdheid wat maak dat sommige van die familielede die pad wil of moet vat.

Maar dit is juis die hunkering na familie en “belonging” van een van die lede wat veroorsaak dat die hele kudde eensklaps in ‘n ander wêreld beland, gevul met reuse reptiele en grillerige karnivoriese plante met te veel maagsappe.

Ek vermoed dit is soms waar ons onsself vandag bevind.  (Nee, nie binne-in ‘n groot Venus “Flytrap” nie.  Gee kans!) Ons families is uiteenlopend.  Dit voel of ons nie regtig meer almal by mekaar pas nie.  En dan kom ons nog boonop agter dat die wêreld waarin ons leef, baie vinnig verander.  Ons sukkel om aan te pas in nuwe omstandighede, waar die reuse reptiele van resessie, te min tyd en te veel verantwoordelikhede dreig om ons familielede in te sluk.

Ons sien selfs hoe ‘n mammoet babatjie gebore word in hierdie eienaardige vyandiggesinde omgewing van Ice Age 3.

Hierdie geboorte is egter ‘n gebeurtenis wat die hele kudde tot stilstand bring.  Die besef kom deur: “Ons het net mekaar”.  Al is elkeen anders en al het elkeen sy / haar eie geite en grille – dit is wat ons het.

Die ondergrondse reptielwêreld het die potensiaal gehad om die familie uitmekaar te skeur en te verslind.  Maar uiteindelik is dit binne-in hierdie gevaarlike omgewing waar die familielede mekaar weer ontdek en waardeer.

Ons sien die saamgeflansde familie uiteindelik weer tuiskom in die lig en die ys waar hulle hoort.  Maar ons weet hulle is gelukkig nie meer dieselfde nie.

En ek dink sommer aan die brief van 1 Petrus, wat geskryf is aan die “vreemdelinge en bywoners in die wêreld”. In 2:10 word geskryf oor die familie (volk) wat nie voorheen ‘n familie was nie, maar wel een geword het.  Eintlik maar ‘n vreemde uiteenlopende spulletjie.  Ons word selfs in 5:2 ‘n kudde genoem!

Met hierdie teks in gedagte, sien ek uit na die geboortes wat op pad is, al is ons wêreld dikwels anders as wat ons wou hê.  Ons het mekaar.

03
Mar
09

Stille elegansie

Die kinders jil en juig in die tent.  Ek ruik die gras wat hulle sit en uitpluk uit pure opgewondenheid.  Die poppekas en die kulkunstenaar het behoorlik die ding gedoen.

 

Elkeen kry ‘n stukkie bont tuisgemaakte klei om ‘n hartjie mee te maak.  Dis nog louwarm, en ek voel die souterigheid daarvan in my palms soos wat my hande weer droog word.  Dan kom hulle sommer so klomp op ‘n slag om die harte teen die rowwe hout van die kruis vas te druk.  Party so verspot, dat ek my lag nie kan hou nie.  Die een outjie kom paradeer met sy groen kleihart oor sy neus gedrapeer, en ‘n ander een gil omdat sy eerder ‘n rooi hart wou gemaak het. 

 

Maria sit tussen haar groepie kinders wat sy uit die strate gaan haal het vir die byeenkoms.  Hulle ruik en proe eers versigtig aan die klei voordat hulle na die ander loer om te sien wat mens nou eintlik moet maak.  Die tweede en derde golf opgewonde kinders kom daar van haar kant af.

 

Die wind pluk aan die groot markiestent, en ek voel oorweldig deur die lawaai van giggelende kiddies, die wind en die reuk van ou seil.  

 

Dan kom sy, asof soos ‘n engel, uit die kinderskare te voorskyn.  Ek het haar nog nie voorheen opgemerk nie.  Ek skat haar so ses of sewe jaar oud.  Armpies en beentjies uitermate dun weens ondervoeding –  die knobbeltjies op haar skouers en elmboë lyk amper seer.

 

Haar oë soek myne versigtig op.  Ek glimlag vir haar en knik.  Met stille elegansie loop sy vorentoe, voetjie vir voetjie.  Sy trap versigtig met haar te klein plastieksandale, amper soos ‘n touloper sou loop.  Dan kom staan sy voor my, maar sorg dat die afstand tussen ons net reg is: Na genoeg dat ek moet weet sy voel ok, ver genoeg dat ek moet weet om nie aan haar te raak nie.

Vir ‘n rukkie is dit net ek en sy.  Ek sien kinders huppel en spring en lag, tentpale wat wieg en ouers wat gesels, maar ek hoor niks.  Tussen my en die engel is ‘n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie.

 

Voor haar maag hou sy haar hande bak oor mekaar, amper asof daar ‘n skoenlapper in gekoester word wat wil wegvlieg.  Sy kyk na die harte op die kruis, en ek sien sy vind ‘n oorblywende oop kol op die lelike hout.  Dan lig sy die skoenlapperhande boontoe, gereed om die inhoud te laat vlieg.  Sy steek dit uit na my, en ek neem dit.

 

Dit is ‘n klein dik geel-klei hart.  Dit lyk of sy amper te bang was om met die klei te werk, en of die hartvorm amper per ongeluk so gebeur het.  Ek druk my vinger op die oop plekkie op die hout en lig my wenkbroue.  Sy glimlag en knik stadig.  Ek druk die louwarm klei teen die hout vas, en voel amper sleg oor ek dit harder moet druk om te bly sit.  Ek vryf my vingermerke in die middel van die hart weer toe wanneer ek klaar is.  

 

Vir ‘n oomblikkie staan die engel doodstil.  Haar mond gaan effens oop van die glimlag.  Ek sien hoe haar oë die kruis op en af bekyk, en telkens weer kom stilstaan op haar geelhart.  Dan kyk sy my vol in die oë, en knik haar kop.  Sy is tevrede.

 

Sy draai om, en loop weer versigtig terug, net soos wat sy gekom het.  Tussen die ander straatkinders verdwyn sy.  Stadig dring die lawaai in die tent weer tot my deur.  Iemand stamp aan my.  Voor ek omdraai, loer ek self net eers weer na die kruis.

 

En daar, tussen die baie harte in geel, groen, blou en rooi, sit n klein dik geelhartjie sommer so onderlangs teen die hout.  My enigste bewys dat hier vandag ‘n engel was.

05
Nov
08

Ceiling Cat en andere

cat2

Met dank aan Maeree.

Sommige van my vriende het weer begin Bybel lees.

03
Oct
08

Generasie X en verhouding burnout

Wil iemand my nie bietjie help nie, asb?

 

Ek dink Graeme Codrington help ons vandag nogal baie om vorentoe te kyk en te dink.  In Suid-Afrika was hy een van die baanbrekers om die verskillende generasies effens beter te verstaan.  (En net so interessant is sy blog oor die emerging church).

 

Ek het nou net ‘n vragie oor generasie X.  Volgens die generational teorie is die X’ers gewoonlik mense wat nie juis opgewonde raak oor ‘n instansie of lojaliteit aan ‘n maatskappy nie.  Hoofsaak is eerder verhoudings met mense en hoe dit op die langer pad gaan werk.

 

Dit lyk nou egter vir my asof die Generasie Xers huidiglik besig is om verhoudingvoos te raak.  My subjektiewe ervaring is dat die Boomers huidiglik besig is om te ontwaak in hulle verhoudings met ander mense, en probeer om in te haal op wat hulle uitgemis het.  Maar die Lost Generation is besig om dit te verloor.  Ek dink Generasie X is besig om hulle “Last Stand” (verhoudings) ook af te staan.

Praat ek nonsens?

23
Sep
08

Vir Erfenisdag: Wall-E

Ek wag al lank vir ‘n kansie om iets te uiter oor Wall-e.  Ek gaan dit min hou, want mens kan te veel praat daaroor.

Die fliek is soos ‘n profeet uit die Ou Testament wat waarsku: Kyk wat jy doen, kyk wat is op pad.  Ek dink net dis eenvoudig pragtig dat die vroutjie-robot se naam Eve is.  Beslis geen toeval daar nie!  Ironies dat die masjientjies weet om die enigste plantjie in die fliek met uiterste respek te hanteer.  Selfs grond is in die storie iets wat met respek hanteer word.  Aangrypend waar die mense besef die plantjies en die aarde is in ons sorg – die eintlike betekenis van Genesis se “heers oor die aarde”.  Die fliek bevestig dat ons maar grondmensies is en nie anders kan nie as om met respek vir die aarde te leef.

(Enigiemand agtergekom dat die popcorn bokse en coke-glase in die vullisblikke na hierdie fliek maar net so baie was soos altyd?)

O Aarde, ‘n liedjie vir jou vir môre.  Ek is mal oor die einde, met ‘n nuwe wêreld in sig op die horison.

17
Sep
08

Kuifie

Ek wonder hoe gaan dit wees?

Spielberg is op dun ys. Durf mens ‘n fliek maak hiervan?

Ek is tans aan die herkou oor Spielberg se fliekmaakkeuses.  Dalk is daar ‘n patroon.  Hy kom al ‘n lang pad sedert Close Encounters of the Third Kind, Jaws en E.T.

15
Sep
08

Awake

Wat ‘n horribale ervaring! Goed gedoen, met dalk net ‘n bietjie te veel toevallighede in een fliek om sonder verdowing afgesluk te kry.

(Spoiler alert!)

Wat ‘n ontsettende aaklige ervaring moet dit nie wees nie: om op ‘n hospitaalbed te lê sonder enige beheer oor jou liggaam.  Nie eers jou asemhaling is binne jou willekeurige bereik nie.

En dan word jou borskas oopgesaag en -gespalk om jou hart uit te haal.

Hy verloor egter twee harte.  Die ander een is die vrou wat hy getrou het.

Terwyl die ligte in sy lewenskamers een vir een afgesit word, sien jy hom sterf.  Hy hoor sy lewe voor hom afspeel, maar hy het geen seggenskap daaroor nie.

En dan gee sy ma haar eie hart, sodat hy kan lewe.  Hierdie hart kry nie eers kans om koud te word op ‘n hopie ys nie, maar word sommer so warm in sy borskas geplaas.

En die slotsin van die fliek verkondig die mag van die vrou se self-opofferende liefde vir haar kind.  “Al that matters, is that he is awake.”

Ek wil nie net sien en hoor hoe my lewe verbyglip nie.  Ek wil wakker wees.  Met ‘n warm hart wat binne my klop.  Wanneer my eie te swak is, is daar ‘n Skenker.  Maar dit gebeur soms met erge pyn.

21
Aug
08

flieks wat ek nooit gaan kyk nie

Saw

Saw II

Saw III

Saw IV

Saw V

Saw VI

(Wat is die versamelnaam hiervan?  Chainsaw!)

Hostel

Hotel Rwanda

Nooit weer Passion of the Christ nie

Atonement

Bridget Jones’ Diary

Dan in Real Life

Land of the Dead

Wat is op jou lysie?

21
Aug
08

Kung Fu Panda

Nee genade, my bestaan op WordPress is aan’t disintegreer. Hier’s ek weer, hier’s ek weer (sonder ‘n rooi rok).

Ek worstel vanoggend ‘n bietjie.

Ek kon iets doen, maar ek het nie.  Het jy al ooit so gevoel?  Vertel asseblief.  Imagine nou net Panda het sy kans laat verbyglip…

Dan wonder ek oor nog twee goete wat in hierdie fliek gesê word:

1.  One often meets your destiny on the road to avoid it.  (Klink so bietjie soos Jona, Jo-o-o-ona, gaan na Nineve)

Is dit waar vir jou?

2.  Daai wyse ou mannetjie wat gecopy is van die karakter uit Star Wars (regtig nou: Wat presies is die verskil tussen Shifu en yoda?) reken hy was te trots op sy “aangenome seun”.  Is so iets dan moontlik?  Kan jy iemand te lief hê?  Liefde is mos nie dieselfde as bederf nie?

Wie weet: Ek kon iets, maar ek het nie.  As punt 1 hierbo waar is, it will still be coming…

02
Jul
08

Incredible Hulk

incredible hulk

In standerd 7 ry ek een Dinsdagoggend skool toe op my fiets.  Amper daar gekom, min of meer by die skyfskietbane, dink ek: Ek is ek.  Ek wil nie iemand anders wees nie.  Ek hou nie van alles van myself nie, maar dis steeds wie ek is.  En vraag is: gaan ek oor 10 jaar nog dieselfde “ek” wees?  My antwoord aan myself was: Nee, dis mos onmoontlik.  Ek het byna omgedraai huis toe.  Die idee was vreesaanjaend.

Incredible Hulk was nogal Incredible.  En ek hou nogal van die belofte van ‘n samewerking tussen Iron Man en die groen kabouter iewers vorentoe…

Ek het oorweeg om hier hardop te dink oor die stryd wat Bruce Banner het om Hulk te beheer, en hoe dit dalk waar van ons elkeen kan wees om die “monster within” te tem.  (Soos wanneer die tannie met die pers kop voor jou inry en jou dan teen 34.8 km per uur gevange hou.)  Maar ek is nie nou lus nie, dit voel te veel soos die inskrywing van Spiderman.

Kom ons gesels eerder oor identiteit – meer spesifiek, die vloeibaarheid daarvan.

Vir Bruce Banner het die vloei van sy identiteit by ‘n waterval afgetuimel; dit gebeur vinnig en hy moet dit hanteer.  Iets het deel van hom geword wat nie voorheen deel van hom was nie.

Maar ek, die kyker, is in my skik.  Hoekom?  Want die vreesaanjaendste toneel in die hele fliek, was nie ‘n toneel van metamorfose, of die ander vieslike Hulk-ding waarin die mal soldaat verander het nie, ook nie die gevegstonele of vlamme of klankkanonne nie, ook nie Liv Tyler se bolip nie.

Die vreesaanjaendste tonele het nie gevra vir spesiale effekte nie.

Dit was daardie honderde, honderde, duisende huisies in die krotbuurte van Rio de Janeiro wat laag op laag op laag op mekaar gestapel is.  Mens sien hoe die magdom mensies verdwyn.  Identiteitloos ingeslurp word deur die massa.  Ek is dankbaar vir die groenigheidjie wat in Bruce se are vloei, want ek weet dit gaan sorg dat hy een of ander tyd gaan uitstyg (tehehe) bo die hordes.

Wanneer dit gebeur, is hy geweldig ontsteld, en ek natuurlik in my skik.  Dis immers hoekom ek die fliekkaartjie gekoop het.  Hy skop (!) daarteen, soveel so dat hy bereid is om dodelike dosisse gif in te neem om net weer die Bruce te wees wat hy was.

Maar ‘n waterval val nie twee keer op dieselfde plek nie.

Uiteindelik besluit Bruce om tog tot ‘n mate te aanvaar wie hy nou is, danksy Elizabeth Ross (is dit waar Elizabeth Kubler Ross haar naam gekry het, of was lg. die inspirasie vir hierdie Marvel karakter??).  Mens sien mos in die twee groen monsters oorblyfsels van die mense wat hulle was.  (Hulle het omtrent moeite gedoen om die “goeie” Hulk huilerige ogies te gee teenoor die “slegte” Hulk wat baie boos lyk en snaaks genoeg wel verstand het om te kan praat.)

Ag, vertel my, sou jy dieselfde wou bly as jy kon?  Hier is mos ‘n plekkie vir comments…

In die Nuwe Testament gebeur die onafwendbare “Event” van die kruisiging.  Dit verander die identiteit van mense, juis deur die trauma daarvan.  Vgl. Rom 2:28-29, wat vertel dat ons identiteit “binnekant” sit, nie buite nie.

Ek het gister dieselfde pad gery wat ek as Standerd 7 tiener gery het, daardie Dinsdagoggend.  En ek is beslis nie meer dieselfde outjie nie.  Maar dit is OK.  Dis nog dieselfde rivier, hierdie kant van die stroomversnellings.