Archive for September, 2008

23
Sep
08

Vir Erfenisdag: Wall-E

Ek wag al lank vir ‘n kansie om iets te uiter oor Wall-e.  Ek gaan dit min hou, want mens kan te veel praat daaroor.

Die fliek is soos ‘n profeet uit die Ou Testament wat waarsku: Kyk wat jy doen, kyk wat is op pad.  Ek dink net dis eenvoudig pragtig dat die vroutjie-robot se naam Eve is.  Beslis geen toeval daar nie!  Ironies dat die masjientjies weet om die enigste plantjie in die fliek met uiterste respek te hanteer.  Selfs grond is in die storie iets wat met respek hanteer word.  Aangrypend waar die mense besef die plantjies en die aarde is in ons sorg – die eintlike betekenis van Genesis se “heers oor die aarde”.  Die fliek bevestig dat ons maar grondmensies is en nie anders kan nie as om met respek vir die aarde te leef.

(Enigiemand agtergekom dat die popcorn bokse en coke-glase in die vullisblikke na hierdie fliek maar net so baie was soos altyd?)

O Aarde, ‘n liedjie vir jou vir môre.  Ek is mal oor die einde, met ‘n nuwe wêreld in sig op die horison.

17
Sep
08

Kuifie

Ek wonder hoe gaan dit wees?

Spielberg is op dun ys. Durf mens ‘n fliek maak hiervan?

Ek is tans aan die herkou oor Spielberg se fliekmaakkeuses.  Dalk is daar ‘n patroon.  Hy kom al ‘n lang pad sedert Close Encounters of the Third Kind, Jaws en E.T.

15
Sep
08

Awake

Wat ‘n horribale ervaring! Goed gedoen, met dalk net ‘n bietjie te veel toevallighede in een fliek om sonder verdowing afgesluk te kry.

(Spoiler alert!)

Wat ‘n ontsettende aaklige ervaring moet dit nie wees nie: om op ‘n hospitaalbed te lê sonder enige beheer oor jou liggaam.  Nie eers jou asemhaling is binne jou willekeurige bereik nie.

En dan word jou borskas oopgesaag en -gespalk om jou hart uit te haal.

Hy verloor egter twee harte.  Die ander een is die vrou wat hy getrou het.

Terwyl die ligte in sy lewenskamers een vir een afgesit word, sien jy hom sterf.  Hy hoor sy lewe voor hom afspeel, maar hy het geen seggenskap daaroor nie.

En dan gee sy ma haar eie hart, sodat hy kan lewe.  Hierdie hart kry nie eers kans om koud te word op ‘n hopie ys nie, maar word sommer so warm in sy borskas geplaas.

En die slotsin van die fliek verkondig die mag van die vrou se self-opofferende liefde vir haar kind.  “Al that matters, is that he is awake.”

Ek wil nie net sien en hoor hoe my lewe verbyglip nie.  Ek wil wakker wees.  Met ‘n warm hart wat binne my klop.  Wanneer my eie te swak is, is daar ‘n Skenker.  Maar dit gebeur soms met erge pyn.