In standerd 7 ry ek een Dinsdagoggend skool toe op my fiets. Amper daar gekom, min of meer by die skyfskietbane, dink ek: Ek is ek. Ek wil nie iemand anders wees nie. Ek hou nie van alles van myself nie, maar dis steeds wie ek is. En vraag is: gaan ek oor 10 jaar nog dieselfde “ek” wees? My antwoord aan myself was: Nee, dis mos onmoontlik. Ek het byna omgedraai huis toe. Die idee was vreesaanjaend.
Incredible Hulk was nogal Incredible. En ek hou nogal van die belofte van ‘n samewerking tussen Iron Man en die groen kabouter iewers vorentoe…
Ek het oorweeg om hier hardop te dink oor die stryd wat Bruce Banner het om Hulk te beheer, en hoe dit dalk waar van ons elkeen kan wees om die “monster within” te tem. (Soos wanneer die tannie met die pers kop voor jou inry en jou dan teen 34.8 km per uur gevange hou.) Maar ek is nie nou lus nie, dit voel te veel soos die inskrywing van Spiderman.
Kom ons gesels eerder oor identiteit – meer spesifiek, die vloeibaarheid daarvan.
Vir Bruce Banner het die vloei van sy identiteit by ‘n waterval afgetuimel; dit gebeur vinnig en hy moet dit hanteer. Iets het deel van hom geword wat nie voorheen deel van hom was nie.
Maar ek, die kyker, is in my skik. Hoekom? Want die vreesaanjaendste toneel in die hele fliek, was nie ‘n toneel van metamorfose, of die ander vieslike Hulk-ding waarin die mal soldaat verander het nie, ook nie die gevegstonele of vlamme of klankkanonne nie, ook nie Liv Tyler se bolip nie.
Die vreesaanjaendste tonele het nie gevra vir spesiale effekte nie.
Dit was daardie honderde, honderde, duisende huisies in die krotbuurte van Rio de Janeiro wat laag op laag op laag op mekaar gestapel is. Mens sien hoe die magdom mensies verdwyn. Identiteitloos ingeslurp word deur die massa. Ek is dankbaar vir die groenigheidjie wat in Bruce se are vloei, want ek weet dit gaan sorg dat hy een of ander tyd gaan uitstyg (tehehe) bo die hordes.
Wanneer dit gebeur, is hy geweldig ontsteld, en ek natuurlik in my skik. Dis immers hoekom ek die fliekkaartjie gekoop het. Hy skop (!) daarteen, soveel so dat hy bereid is om dodelike dosisse gif in te neem om net weer die Bruce te wees wat hy was.
Maar ‘n waterval val nie twee keer op dieselfde plek nie.
Uiteindelik besluit Bruce om tog tot ‘n mate te aanvaar wie hy nou is, danksy Elizabeth Ross (is dit waar Elizabeth Kubler Ross haar naam gekry het, of was lg. die inspirasie vir hierdie Marvel karakter??). Mens sien mos in die twee groen monsters oorblyfsels van die mense wat hulle was. (Hulle het omtrent moeite gedoen om die “goeie” Hulk huilerige ogies te gee teenoor die “slegte” Hulk wat baie boos lyk en snaaks genoeg wel verstand het om te kan praat.)
Ag, vertel my, sou jy dieselfde wou bly as jy kon? Hier is mos ‘n plekkie vir comments…
In die Nuwe Testament gebeur die onafwendbare “Event” van die kruisiging. Dit verander die identiteit van mense, juis deur die trauma daarvan. Vgl. Rom 2:28-29, wat vertel dat ons identiteit “binnekant” sit, nie buite nie.
Ek het gister dieselfde pad gery wat ek as Standerd 7 tiener gery het, daardie Dinsdagoggend. En ek is beslis nie meer dieselfde outjie nie. Maar dit is OK. Dis nog dieselfde rivier, hierdie kant van die stroomversnellings.
