Dana Snyman skryf, wat my betref, toe sinvol. Hy praat namens homself, sonder om snaakse goed te aanvaar oor die mense wat by die mighty men konferensie was.
Daarenteen is daar iemand wat, vreemd genoeg, “verontwaardig” is oor die konferensie. Kan ons regtig verwag om objektiewe waardes by die kerk te kry, wil ek weet? En is emosie regtig so negatief? Ek meen, mens moet tog darem iets van emosie verstaan om berymings te maak van so ‘n paar Psalms in die Liedboek van die Kerk? Of gooi ek die spies mis hierso? Kan mens net objektief sit en dink oor emosies? (En as dit gaan oor die feit dat die konferensie vir mans bedoel is, sal ek graag wil weet hoekom die skrywer nie ook wil spiesgooi na die Hadassa konferensies nie?)
As die konferensie een of ander oorlog voorgestaan het en/of afbrekend was, sou ek sodanige “verontwaardiging” kon verstaan, maar dit is vir my ‘n vreemde en onvanpaste emosionele reaksie. Net soos wat dit vir my snaaks is dat sommiges nou meen Dana Snyman “ken nie die Here nie”.
Aan die een kant braak sommige gal oor die mighty men. Hoekom, verstaan ek nie.
Aan die ander kant is dit vir party die enigste oplossing en is jy verdoem as jy nie ook so dink nie. Hoekom, verstaan ek nie.
Doen iets positief aan die situasie in ons land, en ek sal met graagte na jou opinie luister. Dit help nie ons blaai resepteboeke deur en kritiseer al wat gereg is, maar etenstyd is daar nie kos nie.