12
Apr
08

Met singerige toon

Sommige mense kry dit reg om te klink asof hulle neurie terwyl hulle praat. Luister mooi, daar is nogal heelwat van hulle. Party neurie nie altyd nie, maar sal soms, sonder om jou vooraf te waarsku, begin sing terwyl hulle praat.

Die laaste keer waartydens ek my in so ‘n situasie bevind het, was in die hopitaal se waakeenheid.

Ek word om 04:13 die oggend geskakel op my selfoon. Die tannie is nou op haar einde. Ek trek my jean sommer bo-oor my Tasmanian Devil slaapbroekie aan, pluk ‘n trui oor my kop en slinger tussen slaap en wakker deur tot by die motor.

Die hospitaalpersoneel lyk soos ek voel. Ek kom by die tannie. Sy IS op haar einde, weggesak in ‘n diep koma. Maar nou is dit nie net haar dogter wat by is soos gisteroggend nie, daar is nou ‘n man by. Op hierdie oomblik probeer ek nie familie uitpluis nie, maar ek luister mooi na hom ook.

Hulle wag dat die dominee iets doen.

So ek lees ‘n stukkie uit die Bybel en bid saam met hulle. Uiteindelik kom die “Amen.” En ek bly dan doodstil vir ‘n rukkie. Ek kan niks verander nie, maar om nou oor die Stormers te praat, gaan ook nie werk nie. En om te sit en preek is stupid. So ek is heel gemaklik om net bietjie in stilte by hulle te sit. Dit is immers duidelik dat die tannie op haar laaste is, en ek gaan nie Halleluja-liedere sing terwyl ons afskeid neem nie.

Maar nie almal is ewe gemaklik met stiltes nie.

Die vreemde man lyk meteens verbouereerd. Ek sien hy wil iets doen. Ek kyk. Hy tree rukkerig vorentoe en vryf oor die tannie se gesig, min of meer soos ek laas met my Labrador gedoen het. Dan, sonder enige vooraf waarskuwing…

…vra hy vir die tannie in die koma, in ‘n perfekte neurende stem: “Voel jy beter? Hmmm? Voel jy nou beter?”

Ek het die wysie gaan transkribeer. Dit is in 4-tyd.


17 Responses to “Met singerige toon”


  1. 1 maeree
    April 13, 2008 at 9:01 vm

    wat ek nie kan verstaan nie, is hoekom jy enigsins nodig het om daar te wees? plies xplain.

  2. April 13, 2008 at 9:53 vm

    Hulle wou nie alleen wees nie.

  3. April 13, 2008 at 7:22 nm

    Wat ‘n juweel van ‘n inskrywing. Hy het dit gese nie vir die tannie nie, maar vir homself om beter te voel.

    Mense vrees om alleen te wees in tye van nood, soek troos. En mense vrees stilte.

  4. April 13, 2008 at 7:25 nm

    en so word jy meer en meer special! Jy weet mos!

    ((hugz))

  5. April 14, 2008 at 10:37 vm

    Hierdie stukkie het ek met ‘n glimlag gelees! Rosie is reg, mense vrees stilte en wil nie alleen wees in tye van nood!

  6. April 14, 2008 at 11:17 vm

    Dankie vir julle reaksies! Die roudiens was natuurlik episode nr 2, maar ek tob nog of dit ok is om dit ook te vertel :-)

  7. April 14, 2008 at 5:51 nm

    mmmm! As jy eers wonder moet ons hoor! Wag in spanning!

  8. 8 amanda
    April 15, 2008 at 4:38 vm

    ja ag pleez daddy…tell us ’bout the funeral….

  9. April 15, 2008 at 4:55 nm

    jy’t ‘n oor vir ironie – cool inskrywing! het al voorheen vir jou gesE jy kan ‘n kern goed raakvat, hier’s dit weer. in watter toonsoort het hy geneurie?

  10. April 15, 2008 at 5:25 nm

    Idiwidi, dit was in B mineur.

    Amanda, dalk net.

  11. April 15, 2008 at 6:26 nm

    Ek kan nie wag vir episode 2 nie.

  12. 12 Carien
    April 18, 2008 at 10:21 vm

    O aarde, hoe hou ‘n mens jou gesig uitdrukkingloos in so ‘n situasie? Vreksnaaks.

  13. April 18, 2008 at 8:01 nm

    Ek wou nog vra, ja, wat het hy op die begrafnis gesing…

  14. Mei 3, 2008 at 9:09 nm

    Ek het nou aan iets slims probeer dink om te se, maar ek kan nie. Nou bly ek maar stil soos jy gedoen het. Miskien begin iemand iets neurie…

  15. Mei 14, 2008 at 7:32 vm

    Waar’s jy my vriend???: MIS JOU!!!

  16. Mei 17, 2008 at 12:19 nm

    Wonder wat hy sou doen as die tannie terug geneurie het…

  17. September 18, 2008 at 7:35 vm

    {giggel} oor die terugneurie. Dit was ‘n baie mooi vertelling. (al lees ek dit nou eers 4 maande later!). Ek sou nie cope in daai situasie nie. Ek kan sien jy is gemaklik met mense.


Leave a Reply