Sommige mense kry dit reg om te klink asof hulle neurie terwyl hulle praat. Luister mooi, daar is nogal heelwat van hulle. Party neurie nie altyd nie, maar sal soms, sonder om jou vooraf te waarsku, begin sing terwyl hulle praat.
Die laaste keer waartydens ek my in so ‘n situasie bevind het, was in die hopitaal se waakeenheid.
Ek word om 04:13 die oggend geskakel op my selfoon. Die tannie is nou op haar einde. Ek trek my jean sommer bo-oor my Tasmanian Devil slaapbroekie aan, pluk ‘n trui oor my kop en slinger tussen slaap en wakker deur tot by die motor.
Die hospitaalpersoneel lyk soos ek voel. Ek kom by die tannie. Sy IS op haar einde, weggesak in ‘n diep koma. Maar nou is dit nie net haar dogter wat by is soos gisteroggend nie, daar is nou ‘n man by. Op hierdie oomblik probeer ek nie familie uitpluis nie, maar ek luister mooi na hom ook.
Hulle wag dat die dominee iets doen.
So ek lees ‘n stukkie uit die Bybel en bid saam met hulle. Uiteindelik kom die “Amen.” En ek bly dan doodstil vir ‘n rukkie. Ek kan niks verander nie, maar om nou oor die Stormers te praat, gaan ook nie werk nie. En om te sit en preek is stupid. So ek is heel gemaklik om net bietjie in stilte by hulle te sit. Dit is immers duidelik dat die tannie op haar laaste is, en ek gaan nie Halleluja-liedere sing terwyl ons afskeid neem nie.
Maar nie almal is ewe gemaklik met stiltes nie.
Die vreemde man lyk meteens verbouereerd. Ek sien hy wil iets doen. Ek kyk. Hy tree rukkerig vorentoe en vryf oor die tannie se gesig, min of meer soos ek laas met my Labrador gedoen het. Dan, sonder enige vooraf waarskuwing…
…vra hy vir die tannie in die koma, in ‘n perfekte neurende stem: “Voel jy beter? Hmmm? Voel jy nou beter?”
Ek het die wysie gaan transkribeer. Dit is in 4-tyd.