In antwoord op kruidjie se vraag dan:
Hoofrede: In enige preek is die uitdaging om die huidige konteks van jou hoorder en die konteks van die geskrewe teks (in hierdie geval: Ester) met mekaar te laat gesels. Dit is die wetenskap van hermeneutiek. Maar: One Night with the King is nie ‘n preek nie. Dis ‘n fliek wat die indruk wek dat jy die storie redelik geloofwaardig gaan sien. Daar is nie baie ruimte vir preek nie. Jy het net ‘n klein speelveldjie om dit “in te sit”. Maar daardie ruimte in hierdie fliek oorskry by verre die grense. Hoekom dink ek so?
1. Dalk is dit net ek, maar Haman se kleredrag en gedrag voel vir my al te veel na ‘n hedendaagse Hollywood akteurtjie sn. Die karakters voel soms te veel na 21ste eeuse karakters in ‘n ander wereld.
2. Die pragtige sin: “All men are created equal” is beslis nie daardie tyd al uitgedink nie. Dis mos ook ‘n redelik onlangse sêding. Dis grillerig as mens sulke goed wil “inlees” in die Bybel. OK, preek ‘n preek, bring dit in, jy is welkom. Maar moenie vir my vertel Haman het bietjie met Thomas Jefferson vasgesit nie.
3. Die eerste keer wat ek die Nazi swastika gesien het in die fliek, het ek gedink dis oulik gedoen. Want dit was goed vervleg met die res van die simbool wat in die fliek gebruik word. Maar toe gaan hulle te ver. By een geleentheid gaan Haman te kere soos ‘n mini-Hitler. Kompleet met groot rooi vlae in die agtergrond. En op die vlae is die swastika in swart, met die res van die simbool in ‘n valer kleur. Ek is verbaas Mordegai het nie iets oor Auschwitz gesê nie.
4. Ek gril ook ‘n bietjie vir die verliefdheid van Xerxes en Hadassa. Hulle dialoog probeer vreeslik slim klink, maar is baie lomp. Hulle verliefdheid oortuig nie. Veral ook nie Hadassa nie: Een oomblik het sy ‘n Joodse boyfriend en sy is met ‘n pelgrimstog op pad na Jerusalem. Die volgende oomblik is sy onverklaarbaar smoorverlief op die Persiese koning wat haar laat ontvoer het. Sy eet nie die varkvleis nie, maar ‘n Jood sal dit nie eers in sy bord sit en ewe verveeld dan maar die groente uit dieselfde bord eet nie.
5. Daar word ook uitlatings gemaak in die rigting van vroueregte. (Vgl hoe Hadassa uitgelag word oor sy kan lees, dit wat ook oor Vasti gese word.) Weer eens modernerige issues. Die prag van Ester se verhaal, is die feit dat sy regtig nie veel seggenskap gehad het nie, en dit tog meesterlik reggekry het om ‘n hele ryk te beinvloed.
Die ouens probeer te hard om die fliek “relevant” te maak, en kry dit net reg om my te verloor. Ek klim dan onbeholpe uit die storie en kyk dit net. Gaan kyk dit steeds gerus! Ek is nie spyt ek het dit gekyk nie. Is net erg teleurgesteld.