Archive for November, 2007

28
Nov
07

tagged

As jy hier lees en nie verstaan waaroor die 8 onthullings gaan nie, beskou jouself ook as getag, en loop doen dieselle op jou blog.  Hartlike dank.

1.  Ek het in die VSA vir ‘n Jamaican gewerk as karwasser.  Die ou tannies het goed getip as jy bereid was om ‘n soen ook te aanvaar.

2.  Ek gril vir ‘n roomysstokkie tussen my tande.

3.  Ek gee nie te veel om om aan ‘n lyk te vat of ‘n brein op te tel nie, maar ek kan nie Hostel of Saw kyk nie.

4.  ‘n Blou-aap het my regterbeen gebyt in Amanzimtoti.  Ek het nie teruggebyt nie.

5.  Pinnochio het my nagmerries gegee… dink dit was sy angstige stem.  Ek kyk vandag steeds nie Supersterre nie.

6. Ek kon nog nooit besluit tussen blou of groen as my gunsteling kleur nie.

7.  Ek is al met ‘n rewolwer gedreig deur ‘n daggagerookte.  Toe nooi ek die ou maar vir ‘n kuier, en toe besluit hy dis beter om weg te ry.

8. Ek het al ‘n ervaring gehad van Sleep Paralysis.  Maar blykbaar is dit redelik algemeen.

27
Nov
07

stardust

stardust

“Do you see another world out there? No, you see a field. Do you see anything non human? No. And you know why? Because it’s a field!”

Die gatwag (want dis nie ‘n hek nie) hou al dekades lank wag by die muur. Maar dis aan die ander kant van hierdie grens wat die hoofkarakter Tristan agterkom wie hy regtig is, al lyk dit net soos ‘n veld.

Aan hierdie kant van die muur voel dit veiliger.

wall stardust

Aan die ander kant is baie konflik.  Selfs bekend as “Stormhold”.  Maar dis meer real as in die dorpie “Wall”.

20
Nov
07

Hoekom ek nie gehou het van One Night With the King nie

In antwoord op kruidjie se vraag dan:

Hoofrede: In enige preek is die uitdaging om die huidige konteks van jou hoorder en die konteks van die geskrewe teks (in hierdie geval: Ester) met mekaar te laat gesels.  Dit is die wetenskap van hermeneutiek.  Maar: One Night with the King is nie ‘n preek nie.  Dis ‘n fliek wat die indruk wek dat jy die storie redelik geloofwaardig gaan sien.  Daar is nie baie ruimte vir preek nie.  Jy het net ‘n klein speelveldjie om dit “in te sit”.  Maar daardie ruimte in hierdie fliek oorskry by verre die grense.  Hoekom dink ek so?

1. Dalk is dit net ek, maar Haman se kleredrag en gedrag voel vir my al te veel na ‘n hedendaagse Hollywood akteurtjie sn.  Die karakters voel soms te veel na 21ste eeuse karakters in ‘n ander wereld.

2.  Die pragtige sin: “All men are created equal” is beslis nie daardie tyd al uitgedink nie.  Dis mos ook ‘n redelik onlangse sêding.  Dis grillerig as mens sulke goed wil “inlees” in die Bybel.  OK, preek ‘n preek, bring dit in, jy is welkom.  Maar moenie vir my vertel Haman het bietjie met Thomas Jefferson vasgesit nie.

3.  Die eerste keer wat ek die Nazi swastika gesien het in die fliek, het ek gedink dis oulik gedoen.  Want dit was goed vervleg met die res van die simbool wat in die fliek gebruik word.  Maar toe gaan hulle te ver.  By een geleentheid gaan Haman te kere soos ‘n mini-Hitler.  Kompleet met groot rooi vlae in die agtergrond.  En op die vlae is die swastika in swart, met die res van die simbool in ‘n valer kleur.  Ek is verbaas Mordegai het nie iets oor Auschwitz gesê nie.

 

4.  Ek gril ook ‘n bietjie vir die verliefdheid van Xerxes en Hadassa.  Hulle dialoog probeer vreeslik slim klink, maar is baie lomp.  Hulle verliefdheid oortuig nie.  Veral ook nie Hadassa nie: Een oomblik het sy ‘n Joodse boyfriend en sy is met ‘n pelgrimstog op pad na Jerusalem.  Die volgende oomblik is sy onverklaarbaar smoorverlief op die Persiese koning wat haar laat ontvoer het.  Sy eet nie die varkvleis nie, maar ‘n Jood sal dit nie eers in sy bord sit en ewe verveeld dan maar die groente uit dieselfde bord eet nie.

 

5.  Daar word ook uitlatings gemaak in die rigting van vroueregte.  (Vgl hoe Hadassa uitgelag word oor sy kan lees, dit wat ook oor Vasti gese word.) Weer eens modernerige issues.  Die prag van Ester se verhaal, is die feit dat sy regtig nie veel seggenskap gehad het nie, en dit tog meesterlik reggekry het om ‘n hele ryk te beinvloed.

Die ouens probeer te hard om die fliek “relevant” te maak, en kry dit net reg om my te verloor.  Ek klim dan onbeholpe uit die storie en kyk dit net.  Gaan kyk dit steeds gerus!  Ek is nie spyt ek het dit gekyk nie.  Is net erg teleurgesteld.

17
Nov
07

toiletpapier

Nes ek by die tuinhekkie uitgaan, gewaar ek die halfnaak slak in sy skuim rondwriemel. Hy is toegepak onder die miere. Langs hom lê die helfte van sy dop, waarskynlik per ongeluk afgeruk deur die bedelaar met die krom skouers wat netnou hier was. Ek haal my donkerbril af en bestudeer die miere se spanpoging. Een het die slak aan sy oog beetgekry.

“Wat is dit, Pappa?” vra die 4-jarige Spiderman van ons huis.

“‘n Klomp miere wil hierdie slak eet,” antwoord ek.

Stilte.

Dan raak Spiderman angstig agter die traliehek.

“Ek wil SIEN!”

Hy hol in die huis in, gryp die sleutels en kry die veiligheidshek oopgesluit. Met een sprong is hy langs my.

“Ja,” is sy bevinding. “Daardie miere is honger. Hulle gaan nou lekker eet.”

Dis nie lank nie, of die 7-jarige Princess Belle sluit haar by ons ekspidisie aan.

“Haaaaa! ‘n Slakkie! Shame, hulle gaan hom doodmaak.”

“Ja, hulle gaan hom EET!” spreek Spiderman die doodsvonnis uit.

“Nee! Kom ons help hom!” Princess Belle gaan sit plat op die gras langs die skuimbol. Sy blaas oor die miere.

“Hy gaan in elk geval doodgaan. Hy kan nie so sonder sy doppie lewe nie, die miere gaan hom elke keer weer kry. Miskien moet ons hom liewer doodmaak, dan is dit vinnig verby,” probeer ek.

“Nee!” gil Belle weerstandig. “Ons gaan nie dit doen nie.”

“Ja, kom ons maak hom DOOD!” Spiderman dink eutanasia is ‘n uitstekende plan. Hy hoop hy kry die eer om dit uit te voer.

Ek tel ‘n klip op om die slak se lyding te verkort. Met ‘n refleksbeweging druk Princess Belle haar hand tussen die klip en die slak in. Geen ingrype word vandag hier toegelaat nie.

“Ons los hom so, dat hy liewer self doodgaan.”

Die etiese kwessies wat ons so op ons sypaadjies moet hanteer! Ek laat dit aan die twee oor om te besin wat is die regte ding om te doen. Belle reken dat dit dan maar gedoen moet word, maar hy sal moet begrawe word.

Spiderman kry skoon bewerasie oor die idee. Dis nog die beste een van die dag. Maar HY sal dit doen, kondig hy aan.

Die miere wat so trek aan die ding se lang oog werk op my senuwees. Ek gryp die klip, en met ‘n vinnige beweging fast-forward ek die sessie, voordat enige herbesinning kan plaasvind. Geskok vou Princess Belle haar arms om haar bene. Sonder ‘n bypassende geluid stroom die trane. Spiderman sluk. Princess Belle hardloop in, en kom met ‘n stukkie toiletpapier uitgehol. Met die grootste versigtigheid, asof sy bang is sy maak die ding seer, vou sy die dooie slakbol in die papier toe. Haar gesig lyk soos ‘n ma s’n terwyl sy haar kleintjie se snotneus afvee. Sy loop en gaan begrawe hom onder ‘n bos.

Spiderman tel een van die groot miere op. Dis darem ‘n wonderlike dag hierdie! Hy bestudeer die ding, dink ‘n bietjie, en eet dit met groot verwagting. Sy gesig lyk soos dié van ‘n fynproewer by Slanghoek Wynkelder wat die nuutste Cabernet Sauvignon uitprobeer. Dit was blykbaar wel nie ‘n goeie oesjaar nie.

 

Met Princess Belle wat stilweg in die huis verdwyn, laat gaan ek die wrokke en woedes teenoor ‘n klomp mense vir wie ek bitter kwaad is. In my drafklere, plat op die grond op die nat gras, het ‘n groot klomp goed in my lewe in slegs een vierkante meter vandag irrelevant geword.

 

 

11
Nov
07

krities oor kritiek

Voor ek nou enige fliek wil bespreek, het ek besluit dis nou eers my beurt om gal te braak.   Juis hieroor: Galbraak.

Wat het van balans in hierdie lewe geword?

Ek is sommer geirriteerd oor die feit dat ek min mense hoor wat positief en negatief gelyk wil hanteer.  Oor ‘n spesifieke saak, is alles sommer net fantasties, of alles is sommer net aaklig.  Dit het wel die inding geword om geweldig (lees: moerse) krities te wees oor enigiets.  As jy kan uitstaan met jou opinie, is dit omdat jy dit reggekry het om met die regte byvoeglike naamwoorde en tussenwerpsels iets af te skiet as totale gemors.  Veral as dit iets is waarmee klomp ander mense tevrede is.  (Nee, ek verwys nou nie hier na Zuit se post oor plastiek klompe nie).

Ek vat lankal nie meer die ouens ernstig op wat met mening eenvoudig MOET verskil van die status quo nie.  Ek self is dikwels geirriteerd met die status quo, maar hel, is ALLES dan sleg?

Hoekom moet ons alles tot op die been en tot in die murg dissekteer om al die vrot kolle uit te snuffel?  Ja, dit is daar.  Altyd.  Maar is dit al?

(Ek onthou op universiteit het jy meer punte gekry as jy die vrot kolle kon uitwys en aangaan en aangaan daaroor.  Ek verkies om die universiteit vd lewe ietwat anders in te span.)

Nagedagte: Ek wonder wel: Het hierdie neiging om harder te moet moan gekom weens die feit dat mense net nie meer na mekaar luister nie?

05
Nov
07

Uittreksels uit ‘n kinderboekie

Ek kry eerlikwaar nie my 7-jarige se Engelse boekie vir haar deurgelees nie.  Ek eindig plat op die vloer.

Naam: Horns Only.  (Uitgewer: Maskew Miller Longman)

Hier is ‘n paar uittreksels:

“Can we come too?” Zebra and Monkey asked.

“No!” said Rhino.

“Oh, I wish we had horns,” said monkey.  “Then we could go to the party too.”

When they came to the party, Rhino let them in.  “Welcome,” he said.  “All animals with horns can join in the fun.”

En teen die einde:

“All the other animals with no horns could come too.  Elephant came, and Crocodile came, and Hippo came.  It was the best party ever!”

Is daar fout met my dat ek dit snaaks vind, of sou julle ook?

04
Nov
07

‘n post vir pienk

crocs

Hierdie ene is vir die Zuit.

02
Nov
07

Om ‘n hond uit te sit

Sheba, my pa se boerboel, het toe 14 geword.  Oud en afgeleef.

As jong boerboeletjie, het sy parvovirus gekry.  Sy kon nie eet nie.  Ek het met haar kenmerkende groot jong-hondjie-koppie op my skoot gesit, sodat ek uur na uur die spesiale voeding in haar keel kon afspuit.  Sy kon nie self eet nie, maar het gulsig gesluk aan die vloeistof.  Meeste honde oorleef dit nie.  Ons het best buddies geword.

En toe gaan ek uit die huis uit, trou, trek, werk.   Soms het ons mekaar gesien, soms vir lang tye nie.

En gisteroggend bel my pa my.  Dis die dag waarop Sheba moet uitgesit word.  Hy wil haar nie alleen vat nie.  Ek kanselleer my afsprake, en ry saam na die groter buurdorp.  Sheba hygend op die agterste sitplek.

By ons bestemming sit ek haar halsband aan.  Ons stap in.  Sy word op die tafel getel.  Ek vryf die groot kop, haar agterpote bewe senuweeagtig.   Sy raak rustig.  Die vrou kry nie die aar in die voorpoot nie.  Probeer die ander een.  Ek is in die pad, maar ek los nie Sheba se kop nie.  Met haar kop in my hande het sy oorleef as baba, sy gaan nie alleen tussen vreemdelinge hier uit nie.  Die Xhosa-assistent moet met sy kop teen my skouer druk om te help.  Ek staan bankvas.  So staan ons drie teen mekaar vasgedruk en kyk hoe die kleurlose vloeistof in die buis in haar poot leeggedruk word.  Hulle gee pad, en ek kry kans om haar gesig te bly vryf.

Skielik word sy net pap.  Haar groot kop gaan le op die tafel.  Haar asemhaling stop.  Vir n rukkie myne ook.

Ek stap by die deur uit.  Ek en die assistent kyk mekaar in die oe, en sonder dat ons n woord met mekaar praat, sê ons vir mekaar baie dinge.

Buite kry ek my pa rondloop.  Ek gee hom die halsband terug, ons klim in die motor.  Vir ‘n rukkie sit ons net so en huil geluidloos.

Dit was ons eerste saamhuil.