Nes ek by die tuinhekkie uitgaan, gewaar ek die halfnaak slak in sy skuim rondwriemel. Hy is toegepak onder die miere. Langs hom lê die helfte van sy dop, waarskynlik per ongeluk afgeruk deur die bedelaar met die krom skouers wat netnou hier was. Ek haal my donkerbril af en bestudeer die miere se spanpoging. Een het die slak aan sy oog beetgekry.
“Wat is dit, Pappa?” vra die 4-jarige Spiderman van ons huis.
“‘n Klomp miere wil hierdie slak eet,” antwoord ek.
Stilte.
Dan raak Spiderman angstig agter die traliehek.
“Ek wil SIEN!”
Hy hol in die huis in, gryp die sleutels en kry die veiligheidshek oopgesluit. Met een sprong is hy langs my.
“Ja,” is sy bevinding. “Daardie miere is honger. Hulle gaan nou lekker eet.”
Dis nie lank nie, of die 7-jarige Princess Belle sluit haar by ons ekspidisie aan.
“Haaaaa! ‘n Slakkie! Shame, hulle gaan hom doodmaak.”
“Ja, hulle gaan hom EET!” spreek Spiderman die doodsvonnis uit.
“Nee! Kom ons help hom!” Princess Belle gaan sit plat op die gras langs die skuimbol. Sy blaas oor die miere.
“Hy gaan in elk geval doodgaan. Hy kan nie so sonder sy doppie lewe nie, die miere gaan hom elke keer weer kry. Miskien moet ons hom liewer doodmaak, dan is dit vinnig verby,” probeer ek.
“Nee!” gil Belle weerstandig. “Ons gaan nie dit doen nie.”
“Ja, kom ons maak hom DOOD!” Spiderman dink eutanasia is ‘n uitstekende plan. Hy hoop hy kry die eer om dit uit te voer.
Ek tel ‘n klip op om die slak se lyding te verkort. Met ‘n refleksbeweging druk Princess Belle haar hand tussen die klip en die slak in. Geen ingrype word vandag hier toegelaat nie.
“Ons los hom so, dat hy liewer self doodgaan.”
Die etiese kwessies wat ons so op ons sypaadjies moet hanteer! Ek laat dit aan die twee oor om te besin wat is die regte ding om te doen. Belle reken dat dit dan maar gedoen moet word, maar hy sal moet begrawe word.
Spiderman kry skoon bewerasie oor die idee. Dis nog die beste een van die dag. Maar HY sal dit doen, kondig hy aan.
Die miere wat so trek aan die ding se lang oog werk op my senuwees. Ek gryp die klip, en met ‘n vinnige beweging fast-forward ek die sessie, voordat enige herbesinning kan plaasvind. Geskok vou Princess Belle haar arms om haar bene. Sonder ‘n bypassende geluid stroom die trane. Spiderman sluk. Princess Belle hardloop in, en kom met ‘n stukkie toiletpapier uitgehol. Met die grootste versigtigheid, asof sy bang is sy maak die ding seer, vou sy die dooie slakbol in die papier toe. Haar gesig lyk soos ‘n ma s’n terwyl sy haar kleintjie se snotneus afvee. Sy loop en gaan begrawe hom onder ‘n bos.
Spiderman tel een van die groot miere op. Dis darem ‘n wonderlike dag hierdie! Hy bestudeer die ding, dink ‘n bietjie, en eet dit met groot verwagting. Sy gesig lyk soos dié van ‘n fynproewer by Slanghoek Wynkelder wat die nuutste Cabernet Sauvignon uitprobeer. Dit was blykbaar wel nie ‘n goeie oesjaar nie.
Met Princess Belle wat stilweg in die huis verdwyn, laat gaan ek die wrokke en woedes teenoor ‘n klomp mense vir wie ek bitter kwaad is. In my drafklere, plat op die grond op die nat gras, het ‘n groot klomp goed in my lewe in slegs een vierkante meter vandag irrelevant geword.