Ons sien die kerktoring van ‘n kerkgebou in Manhattan. Die kruis op die toring vertoon duidelik. Die volgende moment is ons net onder die dak van die toring, en ons sien ons spinnekopheldjie verbete veg met homself / buiteruimtelike plasma.
En ek weet instinktief: Dis my geveg daai. En dit vind plaas direk onder daardie kruis wat ons gesien het, al sien ons dit nie nou nie.
In dieselfde kerkgebou sit die pseudo-fotograaf en bid dat Spiderman bietjie Doom kry. Spiderman moet sterf, vra hy.
En saam met hom, sien ons hoe dit gebeur. Onder die geklank van die kerkklok, kom die swart plasma van Spiderman af. Die plasma het gevoed op Spiderman se wraaklus. Onder die geklank van dieselfde kerkklok, onder dieselfde kruis, val die swart plasma bo-op die pseudo-fotograaf. Dit word sy dood wat hy kies, en Spiderman se redding.
Net hierna is Spiderman in die stort. Die water stroom van hom af. Dit is ‘n dooptoneel, as jy my vra. Onder die kruis is sy klewerige haat afgegooi, het redding gekom onder die geklank van die klok. Die doop is immers “die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens”.
Dan hoor jy sy tannie klop aan die deur. Die deur sukkel nog heelmiddag (hang af hoe laat jy fliek). Hy gryp die deurknop, en dit kom af. “Ha!” dink ek, “nice scene, hy het iemand van buite nodig om die deur oop te kry”. Maar hy probeer weer, harder, en kry dit reg. En van hier af sien jy nie weer dat die deur sukkel nie. Dit was die draaipunt van die karakter. Redding het vir hom gekom. Hy het dit gekies, al was dit moeilik.
“You always have a choice!” hoor ons aan die einde van die fliek.
Onder dieselfde kruis, onder dieselfde klok, was dieselfde swart plasma, en twee mense. Die een het lewe en vergifnis gekies, die ander wraak en die dood. Vir die een was die klank van die klok, die klank van lewe, vir die ander was dit die klank van die dood.
Moontlike teks: 2 Kor. 2:14-16
(Terloops: Ek kan alles glo wat ek in die fliek sien: Sandman, Green Goblin, Spiderman, Alienagtige plasma. Maar daar is een flippen ding wat my in al drie flieks uit die verbeel uit irriteer: Hoekom de dinges kry Spiderman dit reg om vinniger te val as alle ander objekte en mense? Dit maak dat Spiderman heeltemal ten gronde gaan…)
