Dit het nogal snaaks gevoel: Almal sit in verwondering in die teater oor die oulike varkie wat deur die meisie aangeneem word. Die volgende oomblik wys hulle lekker spek wat gebraai word, en ek is die enigste een wat kliphard uitbars van die lag. (Btw, gisteraand tydens ons ernstige nuwe kerkraad se vergadering hoor ek iets in die kombuis. Ek verskoon myself en gaan kyk. Dis toe die teetannie wat probeer om met ‘n lang stok die venster hoog teen die dak toe te maak. Ek kon myself nie keer nie. Ek het haar gestorm en skrikgemaak. In alle eerlikheid, ek het nie gedink sy gaan SO skreeu nie. Hoe verduidelik ‘n mens DIT aan die kerkraad sonder dat dit absurd klink? En: ons het ook besluit dat nie-lidmate wat begrawe word, ‘n donasie van R200 sal gee vir die verversings. Ek het gesê dis reg so, maar EK gaan hulle nie vra nie, wat doen ek as hulle antwoord..?)
Nouja, Maeree se gunsteling klanksteelstorie:
Ná een van my preke, besluit ek om tog vir ‘n slag die Tien Gebooie te lees. ‘n Ernstige moment, want dit gebeur nie so baie nie. Terwyl ek dit lees, gewaar ek iemand wat by die voorste trappe (vinnig) opgehol kom, en by die voorportaal in verdwyn. Gedagtig aan die pogings tot diefstal wat ons by die basaar gehad het, vang my oog langer sinsnedes per keer, sodat ek langer kan opkyk terwyl ek die woorde sê. En sowaar, die man het ons klankkamer ontdek, en verdwyn buitentoe met ‘n spoed, sy hande vol drade en Shure-mikrofone. “Nie in MY kerk nie,” besluit ek. Maar wat nou? Ek stop.
“Eh…uhm…ek weet ek is nou nog nie by ‘jy mag nie steel nie’, maar iemand het sopas van ons klanktoerusting gevat en geloop.” Verstom word ek aangekyk. Ek gewaar twee prominente manlike diakens. Ek vra hulle om gou te gaan kyk. Bo-op die galery verrys die hoofspeurder van die dorp, en met verbasende spoed, dog statig, bereik hy die voorportaal en buitedeur.
Ek begelei die gemeente rustig deur die res van die diens en slotgesang.
Ná die afsluiting in die konsistorie, kry ek die speurder. “Het julle die man toe gekry?” vra ek, baie trots dat ek ons toerusting so kon beskerm.
“Ja,” sê hy. “Maar dit was Johan.”
Johan is die kategeet wat verantwoordelik is vir die klank in die saal sodat die kinders kan sing. Die speurder en diakens het hom omtrent beetgekry, maar gelukkig gou agtergekom wat aangaan.
Ek het nog nie weer die Tien Gebooie gelees nie.
Ag nee, ek sal later weer probeer om oor Charlotte ‘n draadjie te spin vir die worldwide web. Dis nou eers genoeg.








